’n Deel van die spelers wat verlede week die eerste voorseisoense oefeninge van Pniël Villagers bygewoon het, maak gereed om kort afstande te hardloop.Foto:

Credit: SYSTEM

Die voorseisoense voorbereiding van rugbyklubs in en om Stellenbosch is stadig besig om momentum te kry voordat die ligaverpligtinge – Superliga A, B, C, Noordelikes, Stad en Suidelikes en ook die sone-afdelings van die Westelike Provinsie Rugbyunie – einde Maart en aan die begin van April afskop.

Voorlopig word aandag aan fiksheid geskenk om van al die lekker eet in die feestyd ontslae te raak, voordat oefeninge in spanverband en vaardighede aangeraak word.

Die Stellenbosse spanne wat vanjaar in die onderskeie ligas betrokke gaan wees, sluit in: Maties (Superliga-A); Van der Stel-Evergreens, Kylemore en Franschhoek (Superliga-B); Klapmuts en Pniël Villagers (Superliga C); Stellenbosch-Coronations, Blakes en Excelsiors in die sones.

Franschhoek speel al die afgelope vier seisoene in SLB en eindig top op die punteleer, maar val elke keer vas by die laaste hekkie. Dalk is vanjaar die jaar dat hulle Superliga-A toe vorder, maar spanne soos Strand en Kylemore wat verlede seisoen ’n proesel van die liga gehad het, sal ’n stokkie daarvoor wil steek. VDE is die buiteperd en as jy die span van Bergzicht se vordering die afgelope drie jaar dopgehou het, sal daar groot druk op hulle wees om voort te bou op die vertonings. Die ander span in die liga wat dopgehou moet word, is Hamediehs van Athlone, wat VDE in die eindstryd om die wenner van Superliga-C te bepaal, geklop het, al het VDE die meeste punte op die punteleer gehad.

Pniël Villagers het verlede week met hul eerste oefensessies (Dinsdag en Donderdag) begin en volgens die voorsitter, Winston Stubbs, was die afrigtingspan verbaas oor die opkoms van spelers en hoop hy dat meer spelers by die klub sal aansluit.

VDE begin Dinsdag 16 Januarie met sy voorbereiding en sal dan elke Dinsdag en Donderdag en elke tweede Saterdag oefen ter voorbereiding vir die liga.

Baie spanne is ook reeds besig om vriendskaplike wedstryde in Maart te reël sodat hulle gerat is vir wanneer die liga begin. Dit is ook ’n uitgemaakte saak dat klubs in Superliga-B (SLB) versterkings sal inbring in areas waar die afrigters voel bietjie gewig en beweeglikheid nodig is.

Dit is ook nie nuus dat alle oë vanjaar op SLB gerig gaan word nie, veral om te kyk of Franschhoek beter rekenskap van hulself gaan gee en of VDE en Hamediehs weer kopsorge vir die ander spanne gaan gee.

Interessante stryde is op die spyskaart wanneer die ligas afskop, maar nou fokus die afrigtingspanne om hul spelers topfiks te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.