Avril Fillies

Die wedstryd tussen die Barbarians en die Springbokke in die DHL-stadion op Saterdag 28 Junie was teleurstellend – dit was nie die tradisionele Barbarian-rugby waaraan die publiek deur die jare gewoond geraak het nie.

Ter versagting kan gesê word dat die gure weer en die feit dat spelers eers laat by die span aan- gesluit het, ook ‘n invloed op die wedstryd gehad het, want daar was nie genoeg tyd om mekaar te vind en te gel nie.

Só vertel Quintin Daniels van Strand, die eerste Suid-Afrikaanse bruin speler wat voor eenwording en voordat Suid-Afrika weer tot internasionale sport toegelaat is, in September 1991 vir die Barbarians uitgedraf het. Die ander Suid-Afrikaners wat saam met hom teen Skotland op Murrayfield uitgedraf het, was André Joubert, Wahl Baartman, Guy Kebble en Tom Lawton. Ná hom het Chester Wiliams, Breyton Paulse en Cornal Hendricks ook die Barbarians-trui oor die kop getrek.

Quintin Daniels in sy Springbok- baadjie en -das.

“Die gure weer het die Barbarians gekeer om hul gewone aanvallende spel te speel, maar aan die ander kant moet bygevoeg word dat die Bokke hulle ook nie toegelaat het om aan die gang te kom nie. Dit was duidelik dat die Barbarians gesukkel het om hul ritme te vind en om op die voorvoet te kom. Blapse deur die losskakel, Josh Jacomb, het in die eerste helfte ook die Barbarians gekelder – alles bydraende faktore tot hul nederlaag van 54-7. As dit dalk ‘n sonnige dag was, kon dinge anders verloop het, want daar was jong spelers wat graag sou wou wys waartoe hulle in staat is,” sê Daniels.

Bekend in Eikestad

Stellenbossers is almal vertroud met Daniels, want hy het in die vroeë 1980’s op losskakel en senter vir Stellenbosch-Coronations uitgedraf. Hy is ook by Coronations deur Charles Williams, die eerste bruin Junior Springbok en Springbokkeurder, afgerig.

“My provinsiale loopbaan het in 1985 ‘n hupstoot gekry. Ek het vir die Westerlike Provinsie-liga, wat destyds onder die vaandel van Dok Danie Craven se SA-rugbyraad geval het, die WP, die Proteas, die SA A-span en ook as ‘n Junior Bok uitgedraf. Daardie jaar was gewis die hoogtepunt van my rugbyloopbaan.”

– Quintin Daniels

“Ek het my rugbyloopbaan by die destydse Strand-Liga, nou Strand, begin onder my pa, James, en het by Coronations beland nadat ek vir die WP se Gouebekerspan gekies is en die Strand-bestuur geweier het dat ek die span verteenwoordig en klubrugby moes speel. Dis toe dat Williams my genader het om vir Coronations te kom speel,” sê hy.

Williams het ‘n groot invloed op sy spel op losskakel en senter gehad aangesien hy ook vir die Proteas teen oorsese spanne in albei posisies diens gedoen het.

“Ek het baie by hom geleer omdat hy kennis van albei posisies gehad het. As ‘n afrigter het hy ons by Coronations hardlooprugby laat speel, soos die sewes-spelers van vandag. Hy het nie daaraan geglo dat jy jou balbesit wegskop nie. Een uitstaande eienskap van hom was dat jy geweet het waar jy met hom staan. As jy vrot gespeel het, het hy jou dit gesê, maar ook aanbevelings gedoen oor hoe om volgende keer beter te doen – deur uit jou foute te leer.

“Benewens hom en my pa het my ma, Rebecca, my broer Roger en my vrou, Venessa, my altyd ondersteun. Saam met Dougie Dyers het Williams my as speler gebrei, maar ook as jong man ‘n invloed op my persoonlike lewe gehad,” sê hy.

Skuif na senter vir deurbraak

Toe Williams as afrigter by Dyers oorgeneem het, het hy Daniels van losskakel na senter geskuif, want hy het geglo hy kan op senter gouer in die WP of Springbokspan kom.

“Naas Botha was destyds die nommer-een-losskakel en dit sou nie maklik wees om hom uit daai posisie te lig as ek ‘n Springbok wou word nie. Daar was nog ‘n string ander losskakels in die land wat ook hul beurt vir die nr.10-trui afgewag het, dus was my kanse beter op senter,” sê hy.

Ná eenwording is hy vir die Suidsee-Barbariantoer gekies, maar moes hom weens ‘n besering aan die toer onttrek. “Gelukkig was 1992 nie die einde van my rugbyloopbaan nie. Van 1993 tot 1996 het ek vir die OP en van 1997 tot 1999 vir Grens en in 2000 vir Boland uitgedraf. Daarna het ek my stewels opgehang. In die Barbarianspan het ek ‘n drie gedruk en dis een van my internasionale hoogtepunte.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article