Altesaam agt laerskole van Stellenbosch, die Helderberg en Grabouw het op 7 September aan die eerste Forward Faster Youth-sewesrugbytoernooi in Raithby deelgeneem.
Die o.13-spanne van Klapmuts Primêr, Dr. G.J. Joubert Primêr, Raithby Primêr, Danie Ackerman Primêr, Temperance Town Primary, St. Michaels Primêr, Firgrove Primêr en False Bay Primêr het sake behoorlik uitgespook. “Dit was ’n goeie geleentheid om die seisoen af te sluit en ’n goeie platform vir om ’n paar omliggende spanne te nooi en die rou talent te aanskou en te identifiseer. En so ook terselfdertyd te geniet. Natuurlik skep sulke geleenthede ook ’n lekker gees, maar bou ook goeie bande tussen skole. Sport leer jou verskeie komponente soos dissipline en respek, faktore wat jy kan toepas in die klaskamer en ook buite in jou persoonlike kapasiteit,” het organiseerder, Janovan Webster, gesê.
Dit was egter Klapmuts Primêr wat Dr. G.J. Joubert Primêr in die eindstryd 19-0 geklop het om die titel te verower.
“Ons is dankbaar vir Forward Foundation en ook persoonlike bystand van ons onmiddellike kring. Asook die hulp wat op die dag verleen is deur Zhaun Booysen, Cleo Minnaar, Patrick van Wyk, Lara Prinsloo en Ashleigh Daniels,” het Webster bygevoeg.