Rugbyspelers van die Hoërskool Franschhoek se eerste span het verlede week die eerste treë geneem op die pad wat hulle saam met hul nuwe borg, Train Kamp, gaan stap.
Dié spelers het Donderdag 16 Augustus hul nuwe toerusting ontvang – enkele dae voor die skool se interskole teen die Hoërskool Tulbagh.
Die maatskappy is betrokke by sport-ontwikkeling en hul doel is om geleenthede vir talentvolle, plaaslike atlete te skep.
Die vennootskap met die Hoërskool Franschhoek sal ’n sprekende voorbeeld van die onderneming se inisiatiewe in die omgewing wees.
Train Kamp sal nie net die rugbyspelers se toerusting borg nie, maar ook hul skoolgeld.
Dick Muir van die Investic Internasionale Rugbyakademie sal talent by die skool identifiseer asook afrigting aan die skool se afrigters bied.
Denver Adonis, voorsitter van die Hoërskool Franschhoek se beheerliggaam, sê die vennootskap met Train Kamp is nie net ’n bate vir die skool nie, maar vir die hele gemeenskap.
Inwoners hoop dié vennootskap sal Franschhoek, wat reeds ’n gewilde bestemming vir toeriste is, ’n groot trekpleister vir atlete maak.