Die ryk erfenis en verskeidenheid kulture van die mense van die 14 dorpies in en om Stellenbosch word vandeesmaand opnuut gevier, met e’Bosch-erfenisprojek wat verlede Donderdag (1 September) sy jaarlikse Erfenismaand-program van stapel gestuur het.
Die geleentheid is by die Voorgelegen-museum-gebou in Dorpstraat, Stellenbosch, aangebied en is deur rolspelers van die verskeie dorpies en verteenwoordigers van e’Bosch bygewoon. Vanjaar se program fokus weer op die verskeidenheid en ryk erfenis van die 14 dorpies – Cloetesville; Devonvallei; Idasvallei; Jamestown; Khayamandi; Klapmuts; Lanquedoc; Raithby; Stellenbosch-sentraal; Vlottenburg en Wemmershoek.
e’Bosch is ’n unieke organisasie, so sinoniem met erfenis en Stellenbosch, dat inwoners van die dorp en omgewing nou reeds bewus behoort te wees van die inspirerende werk wat die organisasie doen.
Volgens Carol Lakay, projekkantoor-koördineerder by e’Bosch, bied die organisasie in samewerking met medewerkers in die 14 dorpies verskillende projekte aan waarby die gemeenskappe hul erfenis kan geniet en met mekaar deel. “Ons bou brûe. Jaarliks skop ons af met ’n bekendstelling van ons program, maar sedert verlede jaar moes ons dinge so bietjie anders aanpak,” het sy verduidelik. “Die bekendstelling van die program het gewoonlik saamgeval met ons eretoekennings wat deur die burgemeester en Universiteit Stellenbosch se rektor by ’n glansgeleentheid op die laaste Woensdag van Augustus geskied. Die pandemie het dinge so ’n bietjie uitgegooi en ons beplan om aanstaande jaar na normaal terug te keer.”
Vanjaar se program is propvol erfenis- en kultuurprogramme in die deelnemende dorpies. Lakay meen mense sal veral die kuns- en kultuur-erfenis-ekspo in Klapmuts geniet, asook die kultuur- en erfenistoer by die Stellenbosch-museum, die skoolkoorfees by Coetzenburg en vele meer erfenis- en kultuur belaaide geleenthede gedurende die maand van feesvierings.
“Daar is ook natuurlik die jaarlikse e’Bosch-eretoekennings vir inwoners wat ’n uitsonderlike bydrae lewer tot bevordering van die 14 dorpies,” het Lakay verduidelik. “Dié glansgeleentheid by die Universiteit Stellenbosch-museum sal deur e’Bosch, die Stellenbosch-burgemeester, Gesie van Deventer, en die universiteitsrektor, Wim de Villiers, op Woensdag 28 September aangebied word.”
Vir meer inligting oor e’Bosch en vanjaar se Erfenismaand-program, besoek www.ebosch.co.za.