“Atie-G! Atie-G! Is Atie-G!”
Die kinders skreeu in die straat om Athan Scheepers (20) se aandag te trek.
Scheepers, oftewel Atie-G, soos hy bekendstaan, is ’n rymkletser van Kylemore en het veral opspraak gemaak met sy snit “Coloured Goose”.
“Op laerskool het ek na my neefs geluister; hulle het musiek opgeneem. Ek het toe self probeer. Destyds was dit moeilik om in te kom met rap, maar nou met TikTok is dit makliker,” vertel Atie-G.
Hy meen sosialemediaplatforms soos TikTok het geleer by ander in die musiekbedryf. Waar musikante destyds moes wag vir ’n groot maatskappy of op groter musikante moes staatmaak om ’n platform te bied, beteken sosiale media musikante soos Atie-G kan direk met hul volgelinge skakel.
Nadat “Coloured Goose” ’n treffer geword het, is #colouredgoose op sosiale media gedeel, met talle jong vroue wat hulself as sulks identifiseer het.
“Soos ek dit sien, was jong vroue nie noodwendig trots op wie hulle was nie, maar nadat dit ’n treffer geword het, het ek gesien jong vroue het hulself as ’n coloured goose begin identifiseer.”
Dis nie almal wat met ’n viral-treffer kan spog nie. Hy sê dit is veral besonders wanneer mense tydens sy optredes sy eie lirieke vir hom terugsing.
Atie-G se langtermynplanne is egter nie net om op die verhoog te verbly nie, maar ook ander musiekmakers te help en ’n entrepreneur te word. Dié planne skakel goed in met dié van sy bestuurder, Elandré Moos Lindoor (29).
Lindoor het in 2020 Next Step Entertainment begin. “My onderneming is begin op ’n tydstip wat ek ’n laagte in my lewe ervaar het. Eers was daar die Next Step Entertainment-band, wat gospel was, maar dié band het ge-flop en dit was toe ek terug Stellenbosch toe getrek het. Ek het besef ek sien myself nie meer op die verhoog nie, maar liewer agter die skerms, waar ek dienste in die bedryf lewer,” sê Lindoor.
Hy het Atie-G, soos baie ander musiekliefhebbers, deur “Coloured Goose” gevind en besef saam kan hulle ’n verskil in ander jongmense se lewe maak.
“Saam kan ons vorentoe gaan deur musiek. Ons groei onderskeidelik as kunstenaars en ons leer van en by mekaar. Ek kan dan my vaardighede gebruik, waar hy dan uiteindelik op sy eie voete kan staan.”
Benewens die musiek wil die twee ook gemeenskapswerk doen deur kos uit te deel aan behoeftiges en dalk klere in te samel. Lindoor meen dit is belangrik om nie net te praat oor ’n verskil maak nie, maar om dit uit te leef sodat jong mense geïnspireer kan word.
“Ons is hier in Stellenbosch, in Kylemore, en ons sien hoe die kinders hier grootword. Ons dink musiek– Atie-G se musiek – kan kinders ’n lekker vibe gee, maar ons wil hulle ook leer om verantwoordelik op te tree. Ons moet ons eie kinders red voordat ons uitkring.”
Hulle sê oor vyf jaar wil hul klank-, musiek- en vermaaklikheidsdienste aan die gemeenskap lewer.
“We will rather reach for the top because the bottom is full,” is hul lewensleuse.