Watter wynkelder gaan vanjaar met die gesogte Generaal Smuts-trofee by die SA Jongwynskou wegstap?
Watter wynkelder gaan vanjaar met die gesogte Generaal Smuts-trofee by die SA Jongwynskou wegstap?

Die beoordeling van die jongwyne van die 2025-oesjaar is hierdie week goed op dreef, met 1 491 inskrywings (7% meer as verlede jaar) wat meeding om die toptrofeë, sowel as goue, silwer en bronsmedaljes in die SA Jongwynskou – wat in Die Paviljoen by Nederburg in die Paarl gehou word.

Die SA Jongwynskou is een van die oudste wynkompetisies ter wêreld, wat dateer uit 1833 en is nou in sy 193ste jaar.

Die Kaap de Goeie Hoop Landbouvereniging – wat die bemarkingsnaam Agri-Expo in 1996 gevestig het – is oor die jare heen aktief betrokke by die SA Jongwynskou sedert 1833 as eienaar van hierdie merkwaardige kompetisie, en handhaaf sy verbintenis as beskermheer tot vandag toe. Agri-Expo het die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA) sedert sy stigting in 1976 as organiseerder toevertrou met die indrukwekkende versameling goue en silwer trofeë wat jaarliks aan die wenwyne toegeken word.

Die jongwyne van 2025 wat ingeskryf is, ding mee om 17 gesogte trofeë in die verskillende klasse, met slegs een daarvan wat as vanjaar se algehele kampioenwyn gekroon sal word, en sodoende die gesogte Generaal Smuts-trofee sal ontvang, wat sedert 1952 op die spel is. Terselfdertyd sal die Pietman Hugo-trofee toegeken word aan die kelder wat die hoogste totale punte vir inskrywings in vyf kategorieë behaal.

Hier is van die beoordelaars van vanjaar se SA Jongwynskou, van links: Anton Swarts (Kaapse Wynmeester), Pieter-Neil Rossouw, Bertho van der Westhuizen, Christo Pienaar (voorsitter SAJWS), Albertus Louw, Klaas Stoffberg, Bennie Howard (onder-voorsitter SAJWS) en Fanie Geyser.

Soos met vorige jare, is spesialisbeoordelaars in al die panele aangestel om te verseker dat die beste beoordelingskundigheid ingespan word om die wenners te identifiseer. Altesaam 14 panele met 88 beoordelaars is hierdie week by Nederburg byeen om die beste jongwyne vanjaar te identifiseer.

Die kategorieë wat die meeste inskrywings vir witwyne gelok het, was Sauvignon Blanc, Chenin Blanc, Wit Versnitte, Ander Wit Kultivars en Chardonnay, terwyl dit onder rooiwyne Ander Rooi Kultivars, Rooi Versnitte, Cabernet Sauvignon, Pinotage, Shiraz en Merlot was.

Die omvattende beoordelingsproses hou goeie nuus in vir wynliefhebbers in die sin dat Suid-Afrika weereens ‘n uitstekende wynoes opgelewer het. Wynmakers stem saam dat wyne van uitstaande gehalte vanjaar gemaak is danksy ‘n uitstekende groeiseisoen en uitstaande druifgehalte. Aanduidings is dat die oes wyne met merkwaardige vruguitdrukking, varsheid en kompleksiteit sal oplewer.

“Ons het vanjaar ‘n baie goeie oesjaar beleef, met die jongwyne wat uitsonderlike gehalte toon, en hierdie positiewe bedryfsstemming word ook weerspieël in die toenemende toetrede van wyne uit al die gebiede,” het SANWSA-voorsitter, Christo Pienaar, gesê.

In die afgelope ses jaar het die Jongwynskou groot aanmoediging vir die twee hooftrofeewenners gebied. ‘n Vennootskap tussen die organiseerders en Porex SA – ‘n prominente verskaffer van masjinerie en wynmaaktoerusting aan die bedryf in Paarl – beteken dat die twee onderskeie wenners van die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë geborg word vir ‘n reis na oorsese wynlande.

Die toekenningsgeleentheid sal aangebied word deur die Robertson Jongwynskou op Vrydag 22 Augustus by The Key-lokaal, naby Robertson.

You need to be Logged In to leave a comment.