Die Stellenbosse sanger Werner van der Hoven se nuutste enkelsnit, “Vuur wat Brand”, is vroeër dié maand bekend gestel.Foto: Eric Graham


Die Kaapse sanger Werner van der Hoven se Afrikaanse debuut-album Hart se Taal is vroeër vanjaar uitgereik.

“Die album is ’n samestelling van nuwe en ou songs wat my liefde vir die Afrikaanse taal verteenwoordig – ’n terugkeer na my wortels ná ’n lang tyd in ’n Engelse woestyn,” vertel Van der Hoven, wat op ’n plaas buite Stellenbosch woon.

Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties en Supra Familias was die medeskrywer en vervaardiger en verskeie kunstenaars het saam aan die album gewerk, onder wie Ricus Nel, Danny Smoke en Tim Lengfeld. Die album is onder die leiding van Fred den Hartog by The Nothing Club Studios opgeneem.

Die debuut-enkelsnit vanaf die album Wynland is volgens aanhangers reeds ’n “cult status”-liedjie, veral in die Noorde. Die snit, “Wynland”, het die nommer een op Jacarandafm se CTM-top-40-trefferlys gehaal en word steeds op verskeie radiostasies landwyd gespeel.

Dié gewilde lied is al meer as twee miljoen keer gestroom. Die tweede enkelsnit, “Somer in my keel” saam met Die Heuwels Fantasties draai ook al van Desember 2023 af op trefferlyste. “Hanrie Visagie” het kort daarna gevolg met een van die lekkerste musiekvideos van die jaar, met Cindy Swanepoel en Hamilton Wessels in die hoofrolle.

Die omslag van Van der Hoven se debuutalbum, Hart se Taal.

Die vierde enkelsnit op Hart se Taal, “Vuur wat brand,” word van Vrydag 5 Julie af op nasionale radiostasies gehoor.

Van der Hoven vertel meer oor die liedjie: “Daar’s altyd mense in jou verlede oor wie jy dink en wonder hoe dit met hulle gaan of wat hulle nou doen. ‘Vuur wat Brand’ brei uit op hierdie gedagte. Soms was daar verhoudings in jou verlede wat bloot eenvoudig misverstande was, of romanties of platonies.

“Die skryf van ‘Vuur wat Brand’ was een van daai kere waar die lirieke relatief maklik gekom danksy Pierre Greeff wat meesterlik tot die skryfproses bygedra het. Dit was soos altyd ’n absolute voorreg om saam met Fred den Hartog te werk, wat die produksie van ‘Vuur wat Brand’ hanteer het. Talent is nie ’n groot genoeg woord om Fred se musikale vernuf te beskryf nie. Al wat ek weet is – hy hét dit!

“Dit is verrykend om te sien en ervaar dat ander spesialiste in die musiekbedryf so noukeurig en met respekvolle moeite aan ’n ou se songs kan werk om lewe in hulle te blaas. Dus, aan ’n ieder en ’n elk wat ’n bydrae in die maak van hierdie album gehad het, wil ek met nederigheid en opregtheid dankie sê. Afrikaans is en bly vir my altyd my Hart se Taal.”

Hart se Taal kan aanlyn gestroom word by https://distrokid.com/hyperfollow/wernervanderhoven/hart-se-taal.

Kyk die musiekvideo vir “Vuur wat Brand” by https://www.youtube.com/watch?v=xCwnfwPfo10.

You need to be Logged In to leave a comment.