Koop nou en betaal later is ’n gewilde manier om produkte of dienste te adverteer waarvoor mense nie genoeg geld het om te betaal nie – “instant gratification”.

Saamgestelde rente is ’n wonderlike ding wanneer jy rente op beleggings (spaargeld) verdien, maar dit is ’n pyn as jy dit op geleende geld moet betaal.

Dit is belangrik om nie te veel skuld te hê nie, anders het jy nie genoeg om van te leef nie.

Die regering se geldsake werk dieselfde as my en jou persoonlike finansies – as jou uitgawes meer as jou inkomste is, moet geld iewers geleen word om vir alles te kan betaal.

Die beste is om binne jou vermoë te leef, dit wil sê om nie meer uit te gee as wat jy verdien nie. Jy moet ook nie onnodig geld leen nie. Dit lyk egter nie vir my of ons regering goed vaar hiermee nie.

Volgens ’n berig in Die Burger het ons land se skuld die afgelope vyf jaar met R1 800 miljard gestyg –van R2 500 miljard in 2017 tot R4 300 miljard nou.

As ek kyk hoe ons regering met miljoene en miljarde omgaan, lyk dit my hulle het geen begrip van die verskil tussen ’n miljoen en ’n miljard (in Engels billion) nie.

Indien jy tienduisend rand (R10 000) per dag sou bestee, sal dit jou ’n bietjie langer as drie maande (100 dae) neem om een miljoen rand uit te gee. En om net een miljard rand teen dieselfde tempo te bestee, sal jou nagenoeg 274 jaar neem.

Indien Suid Afrika, soos beweer word, 60 miljoen inwoners het, beteken R4 300 miljard skuld dat elke inwoner eintlik R72 000 skuld en dat ons elkeen nou gemiddeld R30 000 meer skuld as vyf jaar gelede het.

Ongelukkig betaal nie al 60 miljoen inwoners van Suid Afrika belasting nie. Suid-Afrika het slegs sowat 4½ miljoen geregistreerde belastingbetalers van wie die regering genoeg belasting moet invorder om hierdie reuseskuld mee te delg. Die regering sal dus moet poog om gemiddeld byna R1 miljoen belasting van elke belastingbetaler te vorder net om die skuld te betaal.

Volgens die begroting wat in Februarie in die parlement ter tafel gelê is, is die begrote bedrag wat Suid-Afrika hierdie jaar aan rente en die terugbetaling van skuld moet opdok bykans R302 miljard. Die nasionale begroting dui ook op R380 miljard meer uitgawes as inkomste hierdie jaar. Dit staan bekend as die tekort voor lenings. Dit beteken die regering beoog om hierdie jaar nog soveel ekstra geld te leen om al sy uitgawes te dek.

Kyk ons na die regering se vooruitskattings vir die volgende drie jaar, sien ons hy begroot telkens weer vir ’n tekort van meer as R300 miljard – voor lenings.

Die regering durf eenvoudig nie nog skuld aangaan nie – veral nie noudat die ramptoestand in KZN enorme uitgawes vir noodleniging verg nie. Maar, ons regering wil steeds projekte aanpak wat enorme ekstra uitgawes impliseer. Ja, die regering wil steeds die Nasionale Gesondheidsversekeringsprogram (NGV) van stapel stuur en ook die reeds enorme uitgawes aan maatskaplike toelaes verder uitbrei.

Ons land is besig om so ver bo ons vermoë te leef dat ons die gevaar loop dat ons kinders deur ons skuldeisers oorheers kan word.

Wat staan die regering te doen om hierdie situasie te beredder?
. Staak die enorme uitgawe aan reddingsboeie vir staatsondernemings en privatiseer hulle en vergeet van die voorgestelde NGV-program. . Draai briek aan met maatskaplike toelaes. Dit is nie volhoubaar vir 4½ miljoen belastingbetalers nie en verwyder die struikelblokke wat die bedryf van sakeondernemings kniehalter.. Los Eskom se probleme op en verbeter die staat se dienslewering.

Mog hulle die regte medisyne toepas.. David Malherbe is ’n sake- en loopbaankonsultant. Kontak hom by davidmalherbe1@gmail.com vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.