Die fasiliteerders by van die mense wat die werksessie bygewoon het – agter van links is Sam Pellissier, prof. Chris Jacobs, Roelof van der Merwe en Pat Williams. Voor is Lisa Parrock, Rezel van der Merwe, Antoinette Kryger en Jan Mostert.Foto: Elmarine Anthony


  • ’n Seminaar met die tema

Die fasiliteerders van die seminaar was prof. Chris Jacobs en Pat Williams.

Volgens prof. Jacobs is pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging in sy staatsrede van 7 Februarie 2019 dat elke skoolkind binne die volgende ses jaar van digitale werkboeke en handboeke op ’n tablet voorsien moet word, verwelkom.

In die seminaar is genoem dat Suid-Afrikaanse skole egter nou reeds behoort te beplan om gereed te wees om hierdie nuwe tegnologiese digitale era met vertroue tegemoet te gaan. ’n Kritiese vraag is gestel of skole tegnologies gereed is vir die digitale era.

Antwoorde het gewissel van “ja, moontlik” tot ’n besliste “nee”. Kommer is uitgespreek oor histories benadeelde skole wat in die hede ondersteun moet word om die instellings voor te berei om toekomsgereed te wees.

In die seminaar is die volgende uitdagings uitgelig wat ’n nuwe tegnologiese digitale tydvak vir die Suid-Afrikaanse onderwysbestel gaan meebring – die ontwerp van ’n nuwe en relevante tegnologiese digitale strategie vir Suid-Afrikaanse skole, gegrond op ’n kurrikulum waarin “tegnologie” en “digitaal” sentraal staan en ingesluit word.

Die kurrikulum moet saamgestel word en alle rolspelers insluit (private diensverskaffers, vakbonde, ouers en leerders). “Onderwysstudente en diensdoenende onderwysers behoort opgelei en heropgelei te word om tegnologies en digitaal geletterd te wees. Die tegnologiese digitale era verander die wyse waarop leerders leer, leerplanne saamgestel word en vakke aangebied behoort te word. Noodgedwonge behoort assessering te verander (moontlik selfs verdwyn) om aan te pas by laasgenoemde tegnologiese digitale era.”

Leerders gaan in die nabye toekoms gekonfronteer word met nuwe beroepe wat deur die tegnologiese en digitale uitdagings geskep gaan word, volgens Jacobs.

Beroepe gaan ontstaan wat in die hede nog nie bestaan nie. Die sogenaamde 21st Century Education World maak onderwysomgewings kompleks en gekompliseerd. In hierdie didaktiese omgewings ontmoet opvoeders en leerders mekaar, wat verskillende geslagte verteenwoordig. Die verskillende geslagte, die sogenaamde Great Generation, Baby Boomers, Millennials en Generation Z, skep nuwe uitdagings en benaderingswyses.

Die kenmerke van elkeen van hierdie geslagte behoort verteenwoordig te word in die beleide van skole, wyses waarop skoolvakke aangebied word en die wyses waarop leerders leer (leerstyle).

Laasgenoemde uitdagings stel eise aan opvoeders se kreatiewe en innoverende talente en die benadering van gehalteversekering by skole in die toekoms.

“Die tegnologiese (digitale) onderwysbestel stel universiteite voor nuwe uitdagings om meer gerigte navorsing oor laasgenoemde era te doen, wat segwaarde en betekenis vir Suid-Afrikaanse skole het.

“Hedendaags word die meeste bevindings en resultate ontneem van navorsing wat in die buiteland gedoen word,” sê Jacobs.

In die seminaar is beklemtoon dat ouers ’n belangrike taak het om hul kinders op ’n tegnologies digitale leeromgewing voor te berei. Suid-Afrikaanse skole behoort skeppend te herbesin en te dink oor ’n aangepaste strategie om die nuwe tegnologiese digitale toekoms met vertroue tegemoet te gaan.

Hierdie strategie behoort vanuit ’n finansiële perspektief benader te word, waar die gehalte van die digitale apparate en uitdagings met kragvoorsiening op die voorgrond gestel moet word.

Voorspellings is dat datawetenskaplikes, digitale-inhoud-vervaardigers en tegnologiebestuurders in die nabye toekoms belangrike lede van skole se bestuurspanne gaan wees.

Die argitek Sam Pellissier (Archnet) het die seminaar as “uiters geslaagd” beskryf terwyl Roelof van der Merwe (Eco International) dit as “besonder interessant” beskou het.

Jan Mostert was van mening dat die implementering van die uitkomste van die seminaar in die Hoërskool Stellenbosch die skool verder as ’n leidende tegnologiese (digitale) “slimskool” in Suid-Afrika kan vestig.. Kontak prof. Jacobs by profcd@webmail.co.za of besoek www.highlearnafri.com vir nog inligting .

You need to be Logged In to leave a comment.