Marlene Dumas is een van die grootste skilders van ons tyd… en haar werk word beskou as ‘n ruimte om verskillende sensitiwiteite en oorspronge bymekaar te bring.
Haar werk is ‘n repertorium van maniere van skilder en teken, sowel as ‘n uitnodiging om ons menslikheid te konfronteer.
Só meen Laurence des Cars, president-direkteur van die Louvre-museum in Parys, oor Dumas, wat die eerste kontemporêre vrouekunstenaar geword het wie se werk deel van die Franse museum se permanente versameling geword het.
Dumas (72) se alma mater, die Hoër Meisieskool Bloemhof, het hul trots oor hul oudleerder gedeel. “Nóg ‘n pluimpie vir die meesterlike Marlene Dumas (matriek 1971) – sekerlik ons bekendste oudleerder. Wat ‘n inspirasie is sy nie vir alle vroue nie? Welgedaan, Marlene!” het die skool op sy sosiale media laat weet.
Dumas het in Kuilsrivier grootgeword, maar werk en woon die afgelope vier dekades in Nederland. Haar werk het vroeër vanjaar opspraak gemaak nadat een van haar skilderye, Miss January, in Mei vir $13,6 miljoen verkoop is – die meeste nog wat aan ‘n vroulike, lewende kunstenaar betaal is.
Dumas se werk vir die Louvre bestaan uit nege portrette en hang teen die muur van die Porte des Lions-atrium. Dumas bieg sy weet nie mooi wie die gesigte is wat sy vir Liaisons geskilder het nie.
“My gesigte is ‘n mengsel van die verlede en die hede. Ek kan nie die gruwels van die voortdurende volksmoorde van ons tyd direk skilder nie, maar hul skaduwees het wel die stemming beïnvloed waaronder hierdie gesigte gemaak is. Portrette handel oor gelykenis en die herkenning van bekende mense. Gesigte handel oor die naamloses,” het sy luidens ‘n verklaring oor haar werk gesê.
Dumas se uitstalling in die Louvre is veral gepas aangesien sy gereeld in dié Europese museum inspirasie gevind het.
Sy weet party mense sal sekerlik vra hoekom juis haar werk in die wêreldbekende galery uitgestal word, maar sy sê haar antwoord is eenvoudig: “Omdat sy my gevra het. Jy wil nie nee sê wanneer Laurence des Cars jou vra nie.”





