Inwoners van Saagmeul in Wemmershoek sê hulle is moeg van die “swak diens” wat hulle van die plaaslike taxivereniging ontvang en pogings om met die bestuur van die Franschhoek-taxivereniging te vergader, val op dowe ore.
Volgens Hellene Fischer probeer sy en ander inwoners reeds die afgelope vier jaar gereeld om antwoorde by die taxi- vereniging te kry, maar word geïgnoreer, en dit terwyl inwoners se lewens daagliks in gevaar gestel word.
“Bejaardes, studente en werkers moet soggens vroeg by die R45- en R301-kruising staan in die hoop om ‘n taxi te kry. Mense staan vroeg op, loop in die donker deur die bosse en staan langs die gevaarlike pad. In baie gevalle ry die vol taxi’s net verby,” verduidelik Fischer.
Die gemeenskap sê versoeke vir taxibestuurders om liewer by die ingang van hul buurt te stop, word nie in ag geneem nie. Bejaardes, soos Johanna Collins, verduidelik buiten die gevaar om alleen oor die bruggie, die treinspoor en tussen die bosse na die groot pad te loop, wil hulle ook nader aan die buurt afgelaai word weens swaar kruideniersware wat hulle dra nadat hulle in Franschhoek of Paarl inkopies gedoen het.
‘n Bejaarde vrou het glo reeds twee keer by die treinspoor geval, terwyl ‘n jonger vrou vroeër vanjaar glo deur ‘n man op die paadjie oorval is. Sy het daarin geslaag om weg te kom.
Dié geval het talle inwoners twee keer laat dink om die wandelpad langs die Wemmershoek-waterwerke na die R45 te gebruik.
Gretchet Arendse, ‘n inwoner, meen ‘n busroete moet weer ingestel word.
“Die diens wat ons tans kry, is uiters swak. Daar is wel taxibestuurders wat toegewings maak om van die ouer mense nader aan ons ingang af te laai, maar dan moet hulle R20 ekstra betaal. As die taxivereniging beter na ons omsien, sal ons ook na hul sakke kyk,” sê sy.
Pendelaars sê dit is onregverdig dat hulle R28 moet opdok, soos diegene wat uit Franschhoek na Paarl reis, ten spyte daarvan dat hulle “nader aan Paarl” is.

Volgens Franschhoek se taxivereniging wat tans onder administrasie is, is dit nie so eenvoudig vir taxibestuurders om van hul roetes af te wyk nie.
“Ons word deur permitte beperk. Daar is twee roetes – een verby die Drakenstein-tronk en die ander via die R45 – wat plaaslike taxibestuurders móét volg, maar om af te wyk beteken ons kan by wetstoeppassers in die moeilikheid kom,” verduidelik Lesley Sikhuphela, die ondervoorsitter van die vereniging.
Sikhuphela sê om die sowat 42 permitte van plaaslike taxibestuurders te verander, is ‘n proses wat deur beide die Stellenbosch-munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van mobiliteit goedgekeur moet word.
“Ons weet ons bedien ‘n arm gemeen- skap, maar ‘n vaste fooi is ingestel om te verseker taxibestuurders laat nie pendelaars agter wat minder betaal weens waar hulle op- of afklim nie. Die fooie is vir die afgelope drie jaar onverander, ook met pendelaars se sak ingedagte.”
Trevor Jafthas, die voorsitter, sê die vereniging is oop vir gesprekke met die gemeenskap, maar hulle moet saamwerk. Hy meen die gemeenskap word teen die vereniging opgestook.
“Indien hulle die regte prosedure volg en ‘n versoek aan ons vir ‘n vergadering rig en amptelik met die bestuur vergader, sal ons na hul griewe luister. Die griewe voel egter persoonlik en my onderneming word byna daagliks belemmer,” sê Jafthas, wat ook ‘n busmaat- skappy besit.
Kaizer Madonela, streeksuitvoerende beampte van Codeta, wat die vereniging bystaan, raai ongelukkige pendelaars aan om hul griewe in skrif aan die vereniging te rig om ‘n dialoog te begin.
Fischer het by navraag gesê ‘n geskrewe versoek sal so spoedig moontlik aan die vereniging gerig word.
You must be logged in to post a comment.