’n Brand wat Saterdag (3 Februarie) in die vroeë oggendure by die Saddles-restaurant in die Bottelarypad uitgebreek het, het die eetplek heeltemal verwoes.
Brandbestryders van die Stellenbosch-munisipaliteit se brand-en-reddingsdienste is om 06:30 deur ’n lid van die publiek van die voorval in kennis gestel, bevestig die munisipale woordvoerder, Stuart Grobbelaar.
“Die Stellenbosch-brand-en-reddingsdienste het onmiddellik personeel na die toneel gestuur,” sê hy. “Met hul aankoms op die toneel om 06:40 is gevind dat een enkelverdiepingstruktuur deur vlamme verswelg is. Ons span het aan die werk gespring en die brand is teen 08:00 geblus. Genadiglik is geen beserings aangemeld nie en die oorsaak van die brand word ondersoek.”
Volgens die mede-eienaar en franchisehouer Wynand Blom het hulle reeds planne om die restaurant te herbou. “Ons is Saterdag omstreeks 06:00 oor die brand ingelig en dit is eers teen 13:00 [heeltemal] geblus,” verduidelik hy.
“Die oorsaak van die brand word nog ondersoek, maar volgens ’n voorlopige ondersoek kan brandstigting wel uitgeskakel word. ’n Forensiese ondersoekbeampte is volgens protokol aangestel.”
Die verwoestende brand het ongeveer R3 miljoen se skade aan die restaurant berokken, voeg Blom by.
Die binnekant van die restaurant is deur vlamme verswelg, terwyl rook- en waterskade ook in die kombuis veroorsaak is.
Volgens Blom sal Saddles vir ongeveer vier tot ses maande gesluit wees terwyl die herbouing van die familie-restaurant plaasvind. “Hoewel die restaurant gesluit sal wees, dek die versekering die verlies aan inkomste,” verduidelik Blom. “Ons gaan gewis na ons personeel omsien, want hulle is die grootste bate wat ’n mens nie kan vervang nie.”
Die Saddles-restaurant het 32 voltydse personeellede.
“Dit is maklik om die materiële goed te vervang, maar ’n mens kry nie getroue personeel om elke hoek en draai nie,” sê die franchisehouer.
“Ons is baie dankbaar vir die brandbestryders. Altesaam agt brandweervoertuie het binne 10 minute by die toneel opgedaag.”
Die Pedal Alot & Play Park, wat langs die onderneming geleë is en ook aan Blom en sy vennote behoort, is nie deur die brand beskadig nie en sal soos gewoonlik voortgaan met sy bedrywighede.
“Dié entiteit het sy eie buite-kombuis, ’n speelarea en staproete,” sê Blom. “Ons gaan wel voort met daardie onderneming, soos bevestig met die assessor.”