Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) en die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme was Donderdag 17 Oktober die gashere vir die jaarlikse beleggerswerksessie in Stellenbosch.
Onder die gaste was die eienaars van klein, mikro- en medium ondernemings (KMMO’s) wat graag meer wou uitvind oor hoe om hul produkte na ander lande uit te voer. Gassprekers het onder andere Nigel Jacobs van Jacobs Jam ingesluit.
Dié onderneming is in 2019 as ’n klein bedryf in Ceres begin en verskaf sedertdien konfyt internasionaal en plaaslik aan Checkers.
Pietie Williams, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsontwikkeling en beplanningsdienste by die KWDM, en die raadslid Esther Groenewald (portefeuljehouer: korporatiewe dienste, KWDM) het genoem hoe die ondersteuning van die munisipaliteit hulp kan verleen aan ondernemings wat hul produkte wil uitvoer.
Die konferensie het bykans 100 gaste van oor die distrik heen gelok.