Sakelui van Stellenbosch wil die verkeersprobleme opgelos hê, met minder administratiewe rompslomp te doen kry en wil haweloses in huise sien.
Dit was net van die versoeke wat plaaslike sakemense vir Stellenbosch se burgemeester, Jeremy Fasser, gehad het op die Stellenbosch-besigheidsforum se vergadering by Doornbosch verlede Dinsdag (24 Junie). Fasser was die gasspreker en die geleentheid is deur Capitec geborg.
Hy het vertel sy visie vir Stellenbosch is ‘n plek waar alle inwoners kan “woon, werk, belê en ‘n toekoms bou”. Prakties beteken dit goeie infrastruk- tuur – van water tot paaie – het Fasser aangevoer.
“Ons is ‘n munisipaliteit wat basiese dienste regkry en nou bou ons hierop voort. Sonder die nodige basiese dienste en die nodige infrastruktuur kan belegging in ons munisipale gebied nie plaasvind nie. Agteruitgang dryf sake weg,” meen Fasser.
Hoewel sakelui saamgestem het dat Stellenbosh grootliks met goeie padinfrastruktuur en basiese munisipale dienste pronk, het hulle steeds talle klagtes en kommentare gehad.
Sake buite die dorp
Een sakeman het gesê Stellenbosch “versmoor” weens die verkeersprobleme en ‘n gebrek aan die nodige parkeerplek – veral in die middedorp. Hy meen as die munisipaliteit nie die probleem vinnig oplos nie, sal sakelui eenvoudig begin om hul sake buite die dorp te doen.
Hoewel verskeie strategieë oor die jare voorgestel is om die druk verkeer in die gebied aan te pak, neem die instelling daarvan gans te lank, meen sakelui. Voorstelle vir parkeer-en-ry-geriewe en die noordelike verbypad, ‘n voorstel vir ‘n pad om verkeer rondom Stellenbosch se sentrale sakekern te herlei – spesifiek langs die R44-roete – is weer genoem.
Oor die munisipale rompslomp van permitte, goedkeurings en terugvoer het Fasser gesê daar is oor die afgelope maande gekyk na interne prosesse en as deel van die oplossing is meer as 100 nuwe poste geskep om dienslewering te verbeter.
Sakelui het egter steeds oor munisipale amptenare gekla wat nie op e-posse reageer, telefone beantwoord nie of administratiewe take tydsaam verrig.
Een sakeman het vertel hy het spesifiek sy onderneming na Stellenbosch verskuif nadat hy Paarl (Drakenstein-munisipaliteit) en Kaapstad oorweeg het, maar juis hier gekies het aangesien hy nou met die munisipaliteit sou moes werk om sy onderneming op die been te kry.
Fasser het as antwoord gesê sakelui kan hom direk kontak indien hulle vashaak en hy sal verseker die nodige amptenare en departemente gee aandag aan die probleme.
Beleggings bevorder
Klagtes oor haweloses en informele huisies wat in onder meer Tennantville en naby die Adam Tas-brug opgerig word, is ook genoem. “Om mense te verskuif, is ‘n lang en ingewikkelde proses wat deur die howe moet gaan,” het Fasser verduidelik. Volgens hom kos dit R120 000 om die proses te begin om plakkers te verwyder. Alternatiewe behuising moet ook aan die mense gebied word voordat hulle verwyder kan word.
“Die toekoms behoort aan ons almal, en dit is een waarna ons voortdurend moet saamwerk om dit te bereik. En daarom het ons die sakegemeenskap van Stellenbosch nodig. As ‘n munisipaliteit kan ons dit nie alleen doen nie. Dus is my pleidooi dat ons moet voortgaan om ‘n Stellenbosch te bevorder wat nie net beleggings verwelkom nie, maar ook die gemeenskap bemagtig,” sê Fasser.
Kobie van Breda, ondervoorsitter van die forum, meen die vergadering was ‘n goeie eerste stap om kommunikasie tussen die munisipaliteit en sakelui te verbeter. “Dit help nie ons kla net oor die munisipaliteit sonder om dit regstreeks met hulle te bespreek nie. Indien hierdie gesprek is wat ons uit net een bymekaarkoms kan kry, dink net waar ons kan oor ‘n paar maande wees?” het Van Breda gesê.
• Besoek die besigheidsforum se webblad vir meer.