Benje Momberg is Saterdagaand 9 September by die Van der Stel Kroeg in Du Toit-straat, Stellenbosch, raakgeskiet.Foto:


’n Sakeman van Stellenbosch is verlam nadat hy die afgelope naweek tydens ’n gewapende rooftog by sy sakeperseel geskiet is.

Benje Momberg, seun van die bekende wynmaker Ben Momberg en Visit Stellenbosch-uitvoerende hoof Jeanerette Momberg, is Saterdag 9 September by die Van der Stel Kroeg in Du Toit-straat, Stellenbosch, raakgeskiet. Die voorval het omstreeks 22:15 plaasgevind.

Stellenbosch

Benje Momberg is Saterdagaand 9 September by die Van der Stel Kroeg in Du Toit-straat, Stellenbosch, raakgeskiet.Foto:

Die Momberg-gesin het die voorval bevestig en gesê hul seun is Saterdagaand tydens ’n gewapende rooftog beseer. Hy sterk tans in die hospitaal aan.

“Weens sy toestand kan hy nie op die oomblik die polisieondersoek bystaan nie. Ons bedank die gemeenskap vir hul oorweldigende ondersteuning en vra dat hul ons seun in hul gebede hou terwyl hy herstel,” het die familie Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Die Stellenbosch-polisie ondersoek ’n saak van sakeroof en poging tot moord.

Luidens die polisieverslag het een van die kroeg se werknemers by die ingang gestaan om toegangsgeld te neem toe agt onbekende mans na die bestuurder kom vra het.

“Hy het hulle meegedeel dat hy nie daar is nie. Hulle het hom gevra hoeveel dit kos om in te gaan en hy het vir hulle gesê, maar hulle het geweier om te betaal en is weg,” het ’n polisiewoordvoerder, kaptein Nathalie Martin, gesê.

“Ná sowat 15 minute het twee van die mans teruggekom en hulle het die geldkas met kontant gegryp en weggehardloop. Terwyl die verdagtes by die trappe afgehardloop het, het die bestuurder met die trappe opgekom en hulle voorgekeer. Een van die verdagtes het ’n vuurwapen uitgehaal en op die bestuurder geskiet, wat toe geval het. Die verdagtes het oor die slagoffer gespring en weggehardloop. Die slagoffer is hospitaal toe geneem vir mediese aandag,” sê Martin.

Sy sê voorts niemand is nog in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek.

By navraag oor die veiligheid van die perseel het die Stellenbosch-munisipaliteit, die eienaars van die perseel, gesê hy is bewus van die tragiese voorval en wens die beseerde sowel as die geaffekteerde familie alle sterkte toe gedurende hierdie moeilike hersteltyd.

“Die huurder van die perseel is verantwoordelik vir sekuriteit op sy/haar gehuurde perseel. Die munisipaliteit is verantwoordelik vir oorhoofse sekuriteit by geboue, maar tydens sportbyeenkomste, goedgekeurde funksies en ander gebruike is sekuriteitsdienste die sportraad en/of die funksie-organiseerders se verantwoordelikheid,” het ’n munisipale woordvoerder, Stuart Grobbelaar, gesê en bygevoeg “die munisipaliteit staan reg om die polisie op enige manier by staan met hul ondersoek”.

  • Enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisname van die verdagtes word versoek om Stellenbosch-polisie by 021 809 5012/15 te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.