Blootstelling aan geweld kan nie net depressie of angs veroorsaak nie, maar posttraumatiese stres tot gevolg hê.
So sê Karin Gerber, ’n opvoedkundige sielkundige by die Wie is ek-sentrum in Dalsig.
Geweld by skole is onlangs weer onder die vergrootglas geplaas nadat ’n leerder by Stellenzicht Sekondêr voor die skool doodgesteek is.
“Wanneer mense op gereelde of selfs daaglikse basis aan geweld blootgestel word, hetsy as slagoffers of omstanders, kan dit lei tot angs, depressie en ook posttraumatiesestresversteuring,” verduidelik sy.
“Hierdie sielkundige toestande kan ook verband hou met misbruik, waar die persoon alkohol of dwelms gebruik om hul gevoelens van konstante vrees, stres of depressie te verdoof.”
Vir leerders kan die blootstelling aan geweld verdere gevolge hê op akademiese vlak, omdat angs of vrees, depressie of posttraumatiese stres dit baie moeilik maak om doeltreffend te konsentreer.
Sy sê in die Suid-Afrikaanse konteks is dit ’n werklikheid dat ’n groot persentasie leerders in lae sosio-ekonomiese gemeenskappe grootword waar geweld in die gemeenskap alledaags is.
“Hierdie gemeenskappe word gyselaar gehou deur bende-aktiwiteite waar leerders van jongs af die onwettige optrede van ander raaksien, soos die besit van wapens, die misbruik van dwelms, fisiek en verbaal geweldadige optrede, en inbrake, om maar net ’n paar op te noem.”
Sy sê navorsing wys dat leerders wat in hierdie gemeenskappe grootword, ’n groter kans het om gedragsteurnisse te ontwikkel en derhalwe geweld teenoor ander te openbaar. Ander faktore wat kan aanleiding gee tot gewelddadige optrede is ’n kind se huislike omstandighede en wanneer ’n kind by die skool afgeknou word.
“ ’n Kind wat in ’n onstabiele familie-omgewing grootword waar konflik deur geweld hanteer word, se verstandelike ‘bloudruk’ van konflikhantering word dan so gevorm. ’n Kind wat oor ’n lang tydperk by die skool afgeknou word, maar voel dat hulle nie deur die skool of hul ouers gehoor, geglo of ondersteun word nie, kan tot die uiterste oorgaan deur een dag eenvoudig net te knak.”
Die beste teenvoeter hiervoor is volgens haar gesinsamesyn, meen sy. Dit beteken dat kinders in hul gesin fisiek, maar ook emosioneel, veilig voel.
“Gesinsamesyn is teenwoordig wanneer ouers mekaar respekteer, konflik effektief hanteer en aan hul kinders se emosionele behoeftes voldoen. Met betrekking tot boeliegedrag moet afknouery by die skool ernstig opgeneem word en daadwerklik teenoor die oortreder opgetree word.”
Dit is volgens haar nie moontlik om gewelddadige optrede heeltemal te verhoed nie, maar ouers en onderwyseres kan risikoleerders identifiseer en vir hulp verwys.
“In Stellenbosch is daar verskeie organisasies sonder winsbejag sowel as private sielkundiges wat sielkundige dienste aan skole en gesinne bied.”