Altesaam 17 Stellenbossers van die Maties-kanoklub het vanjaar se moordende vierdaagse Bergrivier-kanomarathon voltooi.
Die marathon het Woensdag 6 Julie in die Paarl begin, en Saterdag 9 Julie – 250 km en vier dae later – by Velddrif aan die Weskus geëindig.
Die 74-jarige Johan van Rooyen, wat vanjaar sy 15de marathon voltooi het, beskryf die marathon as een wat “vir die eerste drie dae in laboratorium-toestande van heerlike sonskyn geroei is, maar toe is die angel in die stert die laaste dag se 60 km in ’n sluwe koue noordwester met woeste branders van voor”.
Vir Danie Brink, wat vanjaar sy vyfde marathon voltooi het, was dit die “meedoënloosheid van die derde skof oor 74 km van Bridgetown tot Soutkloof wat die sterkte van jou wilskrag tot die uiterste beproef het, maar tog bly die oorwinning soet”.
Onder die uitsonderlike prestasies van die Stellenbosse roeiers tel Gerhard Beukes, wat vanjaar sy 40ste kanomarathon voltooi het, en Schalk Smit en Johan “Mossie” Serdyn, wat eerste in hul onderskeie ouderdomsgroepe in die meestersklas geëindig het. Die Matie-student Tracey Oellerman was die enigste Stellenbosse vroue-deelnemer en het vanjaar haar derde marathon voltooi.
Ander merkwaardige prestasies in die 2022-wedvaart was ongetwyfeld Hank McGregor se 12de algehele oorwinning en die 82-jarige Jannie Malherbe, wat sy 49ste marathon voltooi het. Hy is ook die enigste oorlewende deelnemer van die eerste Bergrivier-kanomarathon in 1962.
Die volledige span van die Stellenbosch/Maties-kanoklub, wat vanjaar die marathon voltooi het(aantal tussen hakies) is Hanré Streicher (6), Francois Loedolff (37), Schalk Smit (12), Danie Brink (5), Johan van Rooyen (15), Tracey Oellermann (3), Daantjie Malan (11), Johan Mossie Serdyn (33), Francois Meyer (8), Gert van Deventer (16), Gerhard Beukes (40), David Malherbe (6), Conrad Kriel (3), Luke Kingwill en Rob Pike (1 elk) en Andries Smit (25).