Sêgoed ‘ingeweef’ in familie

‘n Geskoolde vrou was my ouma dalk nie, maar lewenswysheid en sêgoed het sy in oorvloed gehad.


‘n Geskoolde vrou was my ouma dalk nie, maar lewenswysheid het sy in oorvloed gehad.

Om nege kinders groot te maak, leer enigeen gewis ‘n ding of twee van die lewe. Maar meer as haar lekker vetkoeke of haar warm drukkies, is dit Mamma Mac se sêgoed wat my bygebly het. Met haar uitdrukkings het sy enigeen (en almal) vinnig op hul plek gesit.

My gunstelingtaaljuweeltjie van Mamma Mac is “van one o’clock tot eenuur”, ‘n aanduiding van die niksbeduidendheid van ‘n saak.

Een Kersfees moes twee van my ooms hoor die nuwe goue kettings wat hulle as geskenk ontvang het, was glad nie so spoggerig soos hulle gedink het nie. Hulle moes liewer hoor hulle lyk soos honde met dié kettings om die nek.

In ‘n ander geval wou ‘n half besope oom voorgee dat sy kuier nie handuit geruk het nie, want hy het “net bier gedrink” – niks wyn nie.

“Bier is die onderrok van wyn,” het Mamma Mac gesê. Sy het geweet diegene wat bier drink, sê later nie nee vir sterker drank nie.

My ouma het ook nie ‘n tekort aan raad gehad nie. My een niggie is gewaarsku teen mans wat skoene sonder veters dra. “Hulle sal onder jou uithardloop.”

Wees ook bedag op “gasgevakters” – agterryers wat hulself as vriende voorgee. Kyk ook uit vir “company oprapers” – mense wat net inval of van hulle wil laat hoor wanneer dit hulle pas, of wanneer skindernuus die ronde doen. Oor Mamma Mac se oë kon jy geen wol trek nie, want oor ‘n liegstorie het sy vinnig gesê “daarvan spreek Paulus nie in sy Psalms nie”.

‘n Nuwe gesegde wat ek teëgekom het toe ek my familie uitvra oor hul gunstelinguitdrukkings, was “jou water kan nie in twee riviere vloei nie”, wat beteken jy moet seker maak jou aand- en oggendpraatjies stem ooreen.

My ouma se sêgoed is in my familie ingeweef en só praat ons uiteindelik uit een mond – Mamma Mac s’n.

Elke familie het sekerlik sy eie taalju­weeltjies. Koester hulle, gebruik hulle en skryf hulle neer, want sulke uitdrukkings bied tog ‘n vingerafdruk van ‘n familie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.