Die geheim tot ’n lang gelukkige huwelik is eenvoudig: Wees lief vir mekaar, gee om vir mekaar, vertrou mekaar, deel in mekaar se belange en gee mekaar ruimte.
Só sê die Seigels-egpaar van Idasvallei, wat Vrydag 18 Maart 50 jaar getroud is.
Aubrey (72), ’n vakman in siviele ingenieurswese, en Winifred (59), ’n boekhouer, is in 1972 getroud nadat hulle in 1970 ’n paartjie geword het.
“Ons was jonk toe ons getroud is en ons het mekaar al die jare geniet. Ons is mekaar se regterhand en ons ondersteun mekaar in alles. Ons is lief vir mekaar en lief vir die Here, want Hy is ons anker. Ons is lief vir kerkwerk en om mense na die Here te lei,” sê Winifred.
Aubrey was bevriend met Winifred se broer toe hy haar raakgesien het. “Ek het altyd net oë vir haar gehad. Hulle was vyf susters en sy was die jongste – en die mooiste,” voeg hy by.
Hy vertel dat hulle een aand van die teater af gekom het toe hy Winifred gevra het om te trou. “Dit was ’n besonderse aand. Die maanlig het op ons geskyn, die weer was perfek en ons was mooi aangetrek. Sy kon nie anders as om ja te sê nie,” sê Aubrey.
Dit het egter nie vir die Seigels net by die ja-woord gebly nie en hulle meen dit wat volgende gebeur het, het die grondslag tot die lang huwelik gelê.
“Ons het met mekaar gepraat oor ons toekoms, wat ons daaruit wil hê en hoe ons daar gaan kom. Dit is belangrik dat julle albei in terme van jul lewe op dieselfde bladsy is. Ons weet presies wie watter rol in die huishouding speel. Ons werk op mekaar se sterk punte. Ek is dankbaar dat God ons die perfekte pasmaats gemaak het, want ons vul mekaar letterlik aan. Sy is goed in die plekke waar ek swak is, en andersom,” voeg Aubrey by.
Die egpaar het hul 50 ste huweliksherdenking Vrydag 18 Maart saam met hul drie kinders, familie en vriende gevier.