Shiehaam Jacobs het haar tyd by die Laerskool Cloetesville ná meer as vier dekades vaarwel geroep. Foto:


Sy was “sekkie”, ma, dokter en sommer alles in een, en nou – ná meer as vier dekades as sekretaresse – het Shiehaam Jacobs haar tyd by die Laerskool Cloetesville uiteindelik vaarwel geroep.

Sy het oor die jare heen meer as 40 000 leerders deur die skoolhekke sien stap en onder vyf skoolhoofde gewerk. Vandag spog sy as die langsdienende personeellid met 43 jaar diens.

Jacobs vertel sy het op 19 April 1980 as jong meisie by die skool begin werk. “Ek is trots daarop dat ek onder vyf skoolhoofde gewerk het – eers Cornelissen, toe Titus, Cyster, Samuels en laastens Cupido. Ek was 22 jaar oud toe ek begin het. Ek het basies uit die skool uit hier kom werk. Ek kom van ’n tyd af toe ons nie rekenaars gehad het nie. Ons het alles met die hand geskryf – selfs die inskrywings by die skool. Ek het oor die jare self rekenaarvaardighede aangeleer,” onthou sy.

“Al die ou onderwysers is al afgetree. Ek is die langsdienende personeellid van die skool. Ek sou nog wou aanhou werk, maar ek moes weens my ouderdom aftree.”

Baie dinge het oor die jare verander, onthou sy. “Vandag het jy as onderwyser geen dissiplinêre mag oor die kinders nie.”

Jacobs sê sy gaan baie dinge van die skool mis.

“Elke dag is anders; dit kom met sy uitdagings en dan ook met sy oorwinnings. Ek gaan alles van die skool mis – die kinders, my kollegas, die onderwysers, opsigters . . . ek gaan alles mis. Hier het altyd iets snaaks gebeur en ons het altyd pret gehad. Ja, daar was uitdagings oor die jare heen, maar so is dit maar in alle gemeenskappe en skole,” vertel sy.

Jacobs sê as daar een iets is wat sy vandag anders sou doen, is dit dat sy nooit sou aftree nie. “Die skool is my passie; my lewe. Ek het nooit in die 43 jaar gewens ek doen iets anders of het ’n ander werk nie. Alles wat ek is, is die skool. En die skool is wie ek is.”

Haar raad aan haar opvolger is om geduld aan die dag te lê en met deernis aan almal aandag te gee.

“Baie mense dink ’n sekretaresse antwoord net telefone, maar as ’n ‘sekkie’ doen jy baie meer as dit – jy dra baie meer as een hoed.”

You need to be Logged In to leave a comment.