Tussen die gewilde staproetes teen die hange van Botmaskopberg groei ’n blommetjie wat onlangs amptelik ’n naam gekry het – danksy ’n plaaslike plantkundige.
Dr. Brian du Preez stap gereeld op die berg en het in 2023 ’n klein wit blommetjie van die Moraea-familie opgemerk. Aanvanklik het hy ‘n foto geneem en nie veel daarvan gedink nie. “Ek het gedink dit is net ‘n kleurvorm van een van die ander bekende spesies in die gebied. Die Moraea-spesies kan baie variasie in kleur toon. Terwyl ek vroeg verlede Oktober besig was om plant-opnames aangrensend aan die Botmaskop-landgoed te doen, kom ek toe af op ’n klein bevolking in ’n gebied waar dennebome in die afgelope jaar geoes is,” verduidelik hy.
Die klein bevolking het uit minder as 20 plante bestaan.
Du Preez het na dr. John Manning van Kirstenbosch uitgereik. Saam het die twee deur die Compton-herbarium, ’n gebou waar monsters van gedroogde plante bewaar, versamel en nagevors word, in Stellenbosch gewerk om te kyk of die wit blommetjie reeds opgeteken is. Hulle kon nie die blom vind nie en Manning het bevestig die vonds was van ’n “nuwe” plant.
“Tot op hede is die plant slegs binne 2 km² waargeneem. Dit is ’n geofiet wat slegs ná ’n versteuring soos ’n brand voorkom. Dit kan meer algemeen wees, maar ek vermoed die meeste van die historiese gebied is reeds deur boorde vernietig,” meen hy.
Die spesies is slegs 50 m van die omstrede Botmaskop-ontwikkeling se lyndraad gevind en Du Preez sê dis moontlik dat die plant ook hier voorgekom het.
Heelwat bedreigde spesies kom in die Botmaskopberg-gebied voor. Du Preez het sy vonds Anastasia – in Grieks beteken dit “opstanding” – genoem juis omdat dit so bedreig is. “Die paar wat ek opgespoor het, het oorleef ondanks dekades se bosbou en plantasies en toe ‘uit die dood’ opgestaan het.”
Dit is onbekend hoe volop die Moraea Anastasia is aangesien sy historiese habitat reeds vernietig is, maar Botmaskop bestaan uit twee bedreigde habitatte – Boland-graniet-fynbos en Kaapse Wynlande-skalie- fynbos. Kaapse flora word gekenmerk deur die hoogs gelokaliseerde spesies en Du Preez meen Moraea Anastasia is ’n goeie voorbeeld hiervan. Werk word nou gedoen om te verseker Moraea Anastasia word bestuur en bewaar. Saad van die blom is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch-tuine versamel om ’n bevolking buiten dié op Botmaskopberg te stig. Du Preez sê die munisipaliteit moet moeite doen om die gebied as beskermde habitat te verklaar en dit as natuur- reservaat te bestuur.
Volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, is die Idasvallei/Botmaskop-natuurgebied- omgewingsbestuursplan ontwikkel en goedgekeur. “Dit stel ’n omvattende visie en spesifieke bestuursdoelwitte vir die munisipale eiendom in die Idasvallei- damgebied en Botmaskop, met inagneming van toepaslike wetgewing. Dit fokus op die rehabilitasie en volhoubare bestuur van die gebied, wat deur die omgewingsbestuur-afdeling geïmplementeer word, met die ondersteuning van kontrakteurs wat vir spesifieke funksies soos die bekamping van indringerplante en die instandhouding van brandbane verantwoordelik is,” verduidelik hy.
Grobbelaar voeg by die munisipaliteit werk nou saam met rolspelers en die publiek om bestuurs- planne vir die biodiversiteit op te stel.