‘n Vrou gevorm deur genade, pyn en oorwinning … Só beskryf Charlene Elliott, die Wes-Kaapse semi-finalis van Mrs Bold, haarself.
Sy hoop om ander te help en met haar lewensverhaal hoop te bied.
Dié voormalige graad R-opvoeder van Klapmuts Primêr is deesdae aan die stuur van die Learningtree-kleuterskool en -nasorgsentrum in Simondium.
“Hierdie sentrum is my hartsprojek – ‘n plek waar ek elke dag kinders bedien wat min het, maar soveel verdien. Ek glo vas ons roeping kan nie deur toeval bepaal word nie, maar dat Jesus reeds by geboorte ons pad uitgelê het. Ek stap daardie pad in gehoorsaamheid en met oorgawe,” vertel Elliott.
Elliott is ‘n ma van twee en het haar man ses jaar gelede aan die dood afgestaan. Hoewel haar man se dood ‘n leemte gelaat het, het dit ook ‘n nuwe vuur in haar hart aangesteek – ‘n vuur om ander te dien, sê sy.

Sy meen om haar storie te deel, kan ander help. “Ek het aan verskeie fotokompetisies deelgeneem – nie omdat ek myself as perfek beskou nie, maar omdat ek glo my storie verdien ‘n plek op ‘n verhoog. Om aan skoonheidskompetisies deel te neem, het vir my begin as ‘n manier om myself ná trauma en verlies weer raak te sien. Ek het besef dat die wêreld vroue nodig het wat nie net glans dra nie, maar ook littekens, want littekens dra stories van oorlewing.”
Elliott glo haar deelname aan Mrs Bold, wat geskoei is vir getroude, geskeide en volwasse vroue asook weduwees, sal ander vroue aanmoedig om ook met waardigheid, met geloof en met vasberadenheid weer op te staan. “Ek het aan Mrs Bold deelgeneem omdat dit my in staat stel om dieper as uiterlike skoonheid te gaan. ‘Bold’ beteken dapper en ek is dapper. Ek het oorleef. Ek het weer opgestaan. Ek doen dit nie vir ‘n kroon nie; ek doen dit vir die stemlose, vir die stukkende en vir elke vrou wat vergeet het wie sy is.”
Vir Elliott is haar deelname aan die kompetisie ‘n reis van groei, omdat deelnemers gemeenskapswerk moet doen. Sy is die stigter van Life of Giving, ‘n liefdadigheidswinkel wat behoeftige matriekmeisies help om hul matriekafskeid by te woon. Sy dryf ook ‘n teenboelie-veldtog en dien as voorsitter van die plaaslike Drug Action-komitee vir Drakenstein.
“Ek het geleer ek is genoeg met of sonder ‘n titel. Ek het myself gesien soos God my sien – sterk, waardig en vol potensiaal. Ek het geleer om weer in my stem, in my waarde en in die uitwerking wat ek kan hê, te glo. Dit sal die eerste keer wees dat ek op ‘n verhoog staan en volkome myself kan wees – sonder ‘n masker; sonder vrees.”
Elliott sê sy sal enige vrou aanraai om aan ‘n skoonheidskompetisie deel te neem om hulself ‘n geleentheid te gee om hul eie stem te vind.
You must be logged in to post a comment.