Lede van die Survivors- senior burger-klub in Kylemore het op Mandela-dag (Donderdag 18 Julie) die koue en nat weer getrotseer om ’n merkwaardige impak op hul gemeenskap te maak.
Die klublede het vroeër vanjaar met ’n breiprojek, waar verskeie produkte soos musse, serpe, handskoene en pragtige komberse geskep is, begin. Ten spyte van die feit dat die meeste klublede 60 jaar en ouer is, bly hul verbintenis om ander te help standvastig en dien dit ook as motivering.
Verlede week het lede meer as 60 handgemaakte produkte aan bejaardes – sommige ook klublede – en individue in die gemeenskap wat onlangs trauma ervaar het, uitgedeel.
Die klub word deur vele ondersteun en só gebruik hulle hierdie projek om ook terug te ploeg in die gemeenskap wat hulle so goed ondersteun.
Lede koester hul hegte Woensdagoggend- byeenkomste saam, wat ’n gevoel van eenheid en kameraadskap bevorder – veral om sulke projekte aan te pak.
Die breiprojek is net een van verskeie uitreik-inisiatiewe wat die klub deur die jaar aanpak, wat die gees van ubuntu omhels en oudpres. Nelson Mandela se nalatenskap eer.
Die klub is ’n voorbeeld van hoe kollektiewe inspanning en deernis warmte en troos vir baie kan bring, een brei-steek op ’n keer.


