Dr. Hennie Botha, uitvoerende hoof van verloskunde en ginekologie by die Tygerberg-hospitaal en Universiteit Stellenbosch.Foto:


Die provinsiale gesondheidsdepartement ondersteun deurlopende pogings om servikskanker as ’n toekomstige openbare bedreiging te elimineer.

’n Effektiewe manier waarop die departement dit doen, is deur die toegang tot die menslike papillomavirus (HPV)-inenting vir jong meisies te verbeter. Die HPV-inenting word jaarliks deur middel van inspuitings in twee dosisse aan geskikte meisies, deur middel van die die departement se skool-inentingsprogram, toegedien.

Tot op hede is nagenoeg 23 000 HPV-versterker-entstowwe tussen September en Oktober by Wes-Kaapse skole toegedien. Ouers en voogde het tot Dinsdag 31 Oktober om toestemming te gee dat hul dogters ingeënt mag word.

Die departement het ’n uitstekende rekord van die toediening van die HPV-entstof in die openbare sektor aan gr.5-skoolmeisies. Sedert 2014 is byna 300 000 meisies nege jaar en ouer teen HPV ingeënt. Die entstof voorkom die HPV-infeksie in meisies en beskerm hulle teen servikskanker as volwassenes.

Servikskanker is die tweede mees algemene oorsaak van sterftes as gevolg van kanker by vroue wat in lande met min hulpbronne woon (slegs tweede ná borskanker) en die vierde mees algemene oorsaak van kankersterftes by vroue wêreldwyd – ná bors-, kolorektale- en longkanker.

Die Tygerberg-hospitaal, die provinsie se grootste openbare gesondheidsfasiliteit, is vir jare aan die voorgrond van gevorderde servikskankerbehandeling in die land.

“By die Tygerberg-hospitaal behandel ons verloskunde- en ginekologiespesialiste elke jaar meer as 320 nuwe gevalle van servikskanker. Dus is dit steeds ’n baie belangrike en ernstige probleem,” het dr. Hennie Botha, uitvoerende hoof van verloskunde en ginekologie by die Tygerberg-hospitaal en Universiteit Stellenbosch, verduidelik. “Vroue word dikwels gediagnoseer wanneer die siekte ver gevorderd is en moeilik is om te behandel.”

Volgens Botha is die HPV-inenting die regte ding om te doen vir die toekomstige gesondheid van ons land. “Inenting werk baie goed om langtermyn-voorkoming teen HPV-infeksie en al die siektes wat dit kan veroorsaak te bied. As genoeg meisies ingeënt word, kan servikskanker totaal uitgewis word.”

Die departement se HPV-inentingsprogram is deel van die wêreldwye pogings van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) om servikskanker as ’n openbare bedreiging teen 2030 te elimineer. Die eerste stap na hierdie doelwit is om 90% van meisies teen die ouderdom van 15 ten volle teen HPV te laat inent.

Met wye inentings dekking van meisies ouer as nege, ís dit moontlik om HPV as ’n menslike patogeen te elimineer.

You need to be Logged In to leave a comment.