“Dit voel fantasties om weer ’n goue medalje te wen. Ek sou dit nie sonder God kon gedoen het nie.”
So sê Simone van der Merwe, ’n gr. 8-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, nadat sy die afgelope naweek aan die UIPM Tweekamp/Driekamp- Wêreldkampioenskap in Madeira, Portugal, deelgeneem en ses goue medaljes gewen het.
Sy het goue medaljes vir die o.15-driekamp gemengde aflos, o.15-tweekamp gemengde aflos, o.15-individuele driekamp, o.15-individuele tweekamp asook die o.15-spanmedalje vir beide driekamp en tweekamp verower.
Die tweekamp en driekamp bestaan uit ’n kombinasie van swem, hardloop en laser skiet. Altesaam 650 atlete van 31 lande het hierdie jaar aan die kompetisie deelgeneem.
Van der Merwe het in die aflos-afdelings saam met haar manlike Suid-Afrikaanse eweknie Rupert Groenewald van Gauteng deelgeneem.
Sy is geen vreemdeling vir hierdie kompetisie nie en het reeds in 2018 aan die wêreldkampioenskap in Egipte deelgeneem en vier goue en een silwermedalje verower. Verlede jaar het sy by dieselfde kompetisie in Duitsland twee goue medaljes in die individuele items verower.
Van der Merwe meen sy het vanjaar meer selfvertroue gehad wat bygedra het tot haar sukses, ten spyte van strawwe kompetisie. Haar droom is om eendag aan die Olimpiese Spele in atletiek of swem deel te neem.


