Nadat beendere van ’n vermiste man vroeër in Mei ontdek is, is ses verdagtes voorverlede Donderdag (25 Augustus) op aanklag van moord in verband met dié gruvonds aangekeer.
Die inhegtenisnemings volg nadat die Cloetesville-polisie, met gebruik van tegnologie, ’n deurbraak gemaak het in die ondersoek nadat ’n man vroeër vanjaar as vermis aangemeld is (“Beendere dalk van man,” EikestadNuus, 2 Junie 2022). Die polisie het Dinsdag 24 Mei met behulp van Reutech Radar Systems se tegnologie die beendere van ’n man, wat toe nog onbekend was, op die plaas Libertas ontdek en opgegrawe nadat hulle reeds vir drie weke die liggaam probeer opspoor het. Die beendere, wat in ’n slaapsak toegedraai was, is tydens die opgrawings gevind. Hoewel die polisie ’n sterk vermoede gehad het dat dit wel die oorskot was van die vermiste persoon, het kapt. Natalie Martin, woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, vandeesweek bevestig dat DNS-toetse amptelik sy identiteit vasgestel het. Volgens Martin is die beendere dié van die 38-jarige Joswin Claasen wat twee jaar gelede as vermis aangemeld is.
“Claasen is Sondag 17 April 2020 deur sy ma as vermis aangemeld nadat sy hom laas by haar tuiste in Kloofstraat, Cloetesville, lewend gesien het,” het Martin by navraag gesê.
Oor vrae rakende misdaad wat heel waarskynlik vermoed word, het Martin gesê sy mag geen verdere kommentaar oor die saak lewer nie; nie voordat die formele borgtogaansoek afgehandel is nie.
“Die doodsoorsaak is danksy baie intensiewe en goeie ondersoek deur speursers. Clinton Malan vasgestel en gevolglik is ses verdagtes vir moord in hegtenis geneem.”
Die moordverdagtes, wat tussen 18 en 35 jaar oud is, het Vrydag 16 Augustus in die Stellenbosch-landdroshof verskyn en bly in aanhouding tot hul volgende verwagte hofverskyning op Donderdag 22 September.