Ses verdagtes sal eersdaags in die hof verskyn nadat hulle glo verlede Woensdag (13 Desember) ’n e-taxibestuurder naby Klapmuts gekaap en ontvoer het en daarna ook ’n vrou en haar twee kinders uit hul huis in Mfuleni ontvoer het.
Die verdagtes het glo ’n losprys vir die vier slagoffers se vrylating geëis.
Volgens AO Joseph Swartbooi, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, is die inligting oor die e-taxibestuurder se ontvoering aanvanklik by die Mfuleni-polisiekantoor gerapporteer.
Hy sê die verdagtes het ná hierdie kaping ook ’n 36-jarige vrou en haar twee kinders by hul huis in Mfuleni ontvoer.
“Die polisie het dadelik gereageer en daarna ’n geïntegreerde operasie onder leiding van die multi-dissiplinêre ondersoekeenheid geaktiveer.
“Inligting tot hul beskikking het hulle na die perseel in Klapmuts gelei waar die span die voertuig van die e-taxibestuurder opgespoor het asook sommige van die verdagtes,” sê hy.
Volgens Swartbooi het hulle die perseel gefynkam totdat die verdagtes se voertuig omstreeks 22:00 die perseel verlaat het.
Hy sê hulle was na ’n winkelsentrum in die gebied onderweg, waar een van die slagoffers vermoedelik gedwing sou word om die losprysgeld te onttrek.
Altesaam ses verdagtes tussen die ouderdomme van 33 en 41 jaar is op aanklagte van kaping, ontvoering, afpersing asook mensehandel in hegtenis geneem.
Volgens Swartbooi is georganiseerdemisdaad-speurders hard aan die werk om vas te stel of hierdie verdagtes wat in hegtenis geneem is, met ander misdade verbind kan word.