Die Universiteit Stellenbosch (US) sal in Desember en April eredoktorsgrade aan ses mense, waaronder ’n navorser, aktivis en akteur toeken.
Luidens ’n verklaring deur Martin Viljoen, universiteitswoordvoerder, word die grade aan “ses merkwaardige individue” ter erkenning van hul buitengewone werk op hul onderskeie gebiede toegeken.
Die ontvangers van die eredoktorsgrade, is:
Nasima Badsha vir haar uitsonderlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse hoër onderwys oor ’n tydperk van 30 jaar. Volgens Viljoen het Badsha baanbrekerswerk gedoen om toegang, billikheid en maatskaplike geregtigheid in die hoëronderwysstelsel te skep. Sy het ook ’n kernrol vervul in die konseptualisering van ? nuwe hoëronderwysbedeling in Suid-Afrika.
Rachel Kachaje van Malawi is ’n bekende gestremdheidsaktivis. Sy word vereer vir haar rol as kampvegter vir gelyke geleenthede en regte vir persone met gestremdhede in Malawi, die res van Afrika en die wêreld.
Dr Bonisile John Kani, van Port Elizabeth, word vereer vir sy 50 jaar lange loopbaan in die uitvoerende kunste en toneelskrywery, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook internasionaal. “Sy hele loopbaan getuig van ’n onwrikbare verbintenis tot die versekering dat jongmense toegang tot die uitvoerende kunste het, en die gebruik van die kunste om op te voed, gemeenskappe te ontwikkel en onderdruktes ’n stem te gee.” Kani was onlangs te sien in Black Panther (2018), The Lion King (2019) en Murder Mystery (2019).
Prof Quarraisha Abdool Karim is ’n vooraanstaande Suid-Afrikaanse navorser met ’n A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting, ’n epidemioloog wat in aansteeklike siektes spesialiseer, en wetenskaplike mededirekteur van die Sentrum vir Vigsnavorsing in Suid-Afrika (CAPRISA). “Sy word vereer vir haar toewyding aan navorsing en opvoeding op die gebied van vrouegesondheid in Afrika én die buiteland, veral vir haar suksesvolle pogings om die soeklig nasionaal en internasionaal op MIV te werp en haar deurslaggewende rol in navorsing oor MIV-voorkoming.”
Dr Uma Lele, van Indië, word vereer vir haar toonaangewende rol in die teorie en praktyk van landelike ontwikkeling wêreldwyd. “Gedurende haar loopbaan van byna vyf dekades word haar werk gekenmerk deur pogings om openbare beleid deur nougesette empiriese navorsing te beïnvloed. Lele is sonder twyfel die voorste kenner van landelike ontwikkeling van haar generasie.”
Prof Leonard Wantchekon van Benin voel so sterk oor die verbetering van ekonomie-opleiding in Wes-Afrika dat hy sy eie universiteit gestig het – die Afrikaskool vir Ekonomie (ASE). Benewens sy amp as ASE-president, is Wantchekon ook professor in Politiek, Internasionale Betrekkinge en Ekonomie by Princeton in die VSA. “Hy moes talle struikelblokke te bowe kom om ’n akademiese leier op sy gebied te word. Hy word vereer vir sy reuse bydrae om die volgende generasie vakkundiges toe te rus met die vaardighede, netwerke en geloof in hulleself om bo hulle omstandighede uit te styg en toonaangewende akademici te word wat die wêreld ten goede kan verander.”