Altesaam 16 hutte is Maandag (26 Februarie) in ’n brand in die Langrug- informele nedersetting in Franschhoek verwoes. Foto: Langrug Soup Kitchen/Facebook

Credit: SYSTEM

Liefdadigheidsorganisasies in Franschhoek het vandeesweek gevra vir skenkings van die gemeenskap te midde van ’n verwoestende brand wat Maandag (26 Februarie) altesaam 16 hutte in die Langrug- informele nedersetting vernietig het.

Volgens Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, is brandweerdienste Maandagmid­dag omstreeks 12:30 oor die brand verwittig.

“Altesaam 10 brandbestryders is gemobiliseer. Ons spanne was reeds teen 12:40 op die toneel en die brand is teen 15:00 volledig geblus,” het Grobbelaar by navraag gesê.

Hy sê 12 informele strukture is in puin gelê, terwyl vier ernstig beskadig is.

“Die Langrug-gemeenskap­sentrum se een muur is ook deur die brand en rook beskadig. Die munisipaliteit is tans besig om die inwoners wat deur die brand geraak is, by te staan.”

Volgens Grobbelaar is geen beserings aangemeld nie.

Hy sê die oorsaak van die brand is nog onbekend.

Die Langrug-sopkombuis het intussen vir bykomende hulp en skenkings gevra.

“Indien enigiemand in staat is om te help, sal dit opreg waardeer word. Hierdie gebied is deel van ons gemeenskap en dit sal goed wees as ons kan saamkom om hierdie families te help op watter wyse ons ook al kan – niks is te klein nie,” het ’n Facebook-inskrywing deur die organisasie Maandag gelui.

Die organisasie sê skenkings kan by Batho’s-sopkombuis in Franschhoek afgelaai word.

You need to be Logged In to leave a comment.