Die verdagte wat van die moord op ’n 6-jarige seuntjie verdink word, het gister (Woensdag 22 Mei) in die plaaslike hof op ’n aanklag van moord verskyn.
Dié saak spruit uit die dood van ’n seuntjie wat Vrydag 3 Mei dood in ’n Jamestown-huis gevind is. Hoewel die Stellenbosch-polisie sê die oorsaak van die kind se dood word steeds ondersoek, word daar vermoed die seun is doodgeslaan.
“Blykbaar het sy ma hom na sy tannie hier gestuur om vir hom plek in die skool te kry. Hy was net ’n paar dae hier,” vertel Stephanie Heneke.
Heneke is aan die stuur van Wings of Love and Hope, ’n gemeenskapsorganisasie wat slagoffers van misdaad en mishandeling bystaan.
Die Stellenbosch-polisie het Maandag (20 Mei) ’n verdagte weens die kind se moord aangekeer.
“Ná ’n intensiewe ondersoek deur Stellenbosse speurders is ’n 57-jarige vrou in hegtenis geneem vir moord ná dié voorval,” het kapt. Nathalie Martin, plaaslike polisiewoordvoerder, aan Eikestadnuus gesê.
Na verneem word, kon die seuntjie se ma nie plek vir hom in ’n skool in Khayelitsha kry nie en het sy hom daarom na haar suster gestuur.
“Die gemeenskap is geskok. Ongelukkig is gesinsgeweld ’n probleem in die gemeenskap, maar hierdie is ’n besonderse geval. Die hartseer daarvan is dat sommige inwoners die seun ’n paar dae voor sy dood met ’n geswelde gesig in die straat gesien het. Hy was so uitgehonger dat hulle sommer vir hom kos gegee het,” vertel Heneke.
Intussen is die tannie se seun (12), wat glo op sy nefie se lyk afgekom het, in ’n plek van veiligheid geplaas.
Heneke sê hierdie hartseer voorval wys hoekom die beginsel van “my child is your child” so belangrik is.
Sy sê ook sy het na die oorledene se ma uitgereik om ondersteuning te bied, maar is weggewys.
Na afloop van die hofverskyning is ’n petisie deur Wings of Love and Hope opgestel om borgtog vir die verdagte teen te staan. Dit sal in die Jamestown-gemeenskap versprei word.
Volgens Esther Lewis, ’n woordvoerder vir die departement van maatskaplike ontwikkeling, moet ouers mooi dink voor hulle hul kinders in andere se sorg laat.
“Ouers moet altyd oorweeg of die persoon aan wie hulle hul kind toevertrou verantwoordelik en betroubaar is, en die vermoë het om die kind voldoende te versorg. Hulle moet ook die fisieke omgewing in ag neem. Nog ’n faktor is die ander mense wat op die perseel woon, aangesien hulle ook toegang tot die kind sal hê,” verduidelik Lewis.
Mei is Kinderbeskermingsmaand wat juis poog om kinderregte uit te lig. Hoewel daar verskeie tekens van mishandeling is, is onverklaarbare kneusplekke, teruggetrokkenheid en bednatmaak algemeen, sê Lewis.
“Enigiemand wat bewus is van, of vermoed dat ’n kind mishandel word, moet die departement óf by die naaste plaaslike maatskaplike-ontwikkelingskantoor óf via die tolvrynommer 0800 220 250, die polisie, die skool of gesondheidsorgdiensverskaffer kontak. Dit is almal se plig om verslaggewers oor mishandeling te wees.”