Simone van der Merwe, ’n gr. 9-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, het nie net haar skool nie, maar ook Suid-Afrika se naam hoog gehou deur verskeie topprestasies tydens die UIPM- Biathle- en Triathle-wêreldkampioenskappe in Indonesië te behaal. Die kampioenskappe is van Woensdag 1 tot Sondag 5 November in Bali gehou. Simone het in die triathle vir o.17-meisies die eerste plek vir die derde agtereenvolgende jaar behaal. Sy was in dieselfde afdeling in die biathle die laaste 20 m van die wedloop in ’n naelbytstryd, maar Simone se veggees tot die einde was iets besonders en getuig van die deursettingsvermoë van ’n ware Bloemhoffer. Sy het in dié item, wat ’n fotobeslissing geverg het, ook goud gewen. Sy het as lid van die triathle-span in die span-item goud gewen, asook silwer in die biathle-span-item sowel as in die o.17-biathle- gemengde aflosspan.Foto’s: Nuno Goncalves/UIPM