Die ATKV-Crescendo bied Saterdag (28 September) die Sit dit aan!-produksie by die Daisy Jones-teater aan, waar 2024-finaliste hul musikale ontwikkeling ten toon sal stel.
As deel van ATKV-Crescendo se 50ste bestaansjaar sal die musikante die verhoog met legendes soos Simon “Hemelbesem” Witbooi, Gracia Nicholls en Whaden Johannes deel.
Die kreatiewe regisseur, Robin Fourie, verklap dat dié bekendstellingskonsert ’n kykie bied op die finaliste se persoonlike en professionele reis tot waar hulle vandag is.
“Hierdie reise was nie net altyd mooi en suksesvol nie; daar was onstuimige, ongemaklike tye ook. Elke finalis verdien om te sien watter hoogtes hy of sy reeds behaal het met die wete dat hierdie avontuur nog ver van klaar is,” sê hy.
Die finaliste Lize-Marié Naudé en Lester Paulus (aka Crimson Hozay) is maar net twee van die kunstenaars wat bevestig dat die persoonlike groei wat hulle deur die loop van die jaar gehad het, net so kosbaar is as die vaardighede wat hulle gaan help om ’n suksesvolle en volhoubare loopbaan in die kunste te volg.
Vir Lize-Marié is dit veral die mense wat haar lewe beïnvloed het. “Hierdie mense is next level. By hulle kon ek net myself wees. Ek hoef nie voor te gegee nie, ek kon sonder grimering wees. Ek is aanvaar net soos ek is en dit is wat die mooi van musiek en musikante is – ons bring die beste in mekaar na vore. Die ATKV-Crescendo-familie is nou die een familie wat ek nie gaan los nie,” sê sy.
Gerrie Lemmer, die uitvoerende hoof vir kultuur, verduidelik dat hierdie bekendstellingskonsert aan die einde van elke jaar ’n hoogtepunt op die ATKV se kalender is. “Dit is net ongelooflik om te sien hoe finaliste van die eerste slypskool in April vanjaar gegroei het tot die kunstenaars wat die gehoor met Sit dit aan! gaan sien.”
- Kaartjies kos R150. Besoek gerus www.crescendo.org.za vir besonderhede.