Dié stegie in Cloetesville, wat Curry- en Eikestraat verbind, sal eersdaags toegemaak word.


Wat eens ’n ontsnappingsroete vir skelms en kwaaddoeners in Cloetesville was, sal hopelik eersdaags ’n geslote deurloop wees.

Ná vele klagtes en kommentaar het die Stellenbosch-munisipaliteit besluit om twee deurlope in die buurt te sluit – langs die Ou Apostoliese kerk, wat Curry- en Eikestraat verbind, asook die een tussen Williamsweg en die R44.

Die munisipale raad was tydens die April-raadsvergadering dit eens dat die sluiting van die deurlope goed sal wees vir die gemeenskap, wat daagliks onder misdaad deurloop.

Inwoners het glo die munisipaliteit genader vir hulp nadat ’n stegie en ’n deurloop deur inwoners, die plaaslike polisie en wetstoepassers as ’n brandpunt vir misdaad verklaar is.

Voorheen is ligte aangebring en die teenwoordigheid van wetstoepassers in die gebied is verhoog, maar hierdie maatreëls het glo nie veel gehelp nie.

Volgens die munisipaliteit sal die sluiting van die stegie en deurloop nie ’n invloed op voetgangers se staproetes hê nie, aangesien ’n alternatiewe roete tussen Eike- en Currystraat via Quarry- en Langstraat gebruik kan word. Die munisipaliteit meen hierdie roete is in elk geval veiliger vir stappers.

Die breë deurloop tussen Williamsweg en die R44 is ’n brandpunt vir misdaad.

Die plan is nou om die nodige kennisgewings op te rig en die deurlope later met ’n heining toe te maak.

Die raadslid John Andrews het egter nog ’n voorstel gehad. “Ek sou net wou gesien het dat ’n muur opgerig word, want as ons kyk wat daar aangaan – die bendelede wat daar deurhardloop – dan sou ’n muur hulle gekeer het,” sê hy.

Die deurloop tussen Williamsweg en die R44 moet oop bly sodat die munisipaliteit toegang tot water-, elektrisiteit-, stormwater- en riooldienste het, maar toegang deur dié deurloop sal met ’n hek beheer word.

Die sluiting van hierdie roetes sal vermoedelik ook die plaaslike buurtwag se werk versterk.

Abie September, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, meen die sluiting sal goed wees. “Talle mense is al daar vermoor en beroof. Al twee hierdie deurlope hou ’n gevaar in, en om deurgang te beheer, sal baie help,” meen September.

You need to be Logged In to leave a comment.