Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) doen ’n ernstige beroep op alle bloedskenkers om bloed te skenk as gevolg van bloedvlakke wat tans kritiek laag is.

“Ons mik om ’n bloedvoorraad van vyf dae te handhaaf en tans ervaar ons ’n tekort in die O+-bloedgroep. Ons het slegs twee dae se voorraad in hierdie bloedgroep,” sê Marike Gevers, die diens se bestuurder van openbare betrekkinge. “Ons moedig alle bloedskenkers aan om lewens red deel te maak van hul nuwe jaar, en hulself toe te wy om vier keer per jaar bloed te skenk.”

Elke skenker wat in Januarie suksesvol ’n eenheid bloed skenk, sal ’n beperkte uitgawe WKB-gesigmasker ontvang.

Indien jy tussen die ouderdom van 16 en 75 is, 50 kg of meer weeg, ’n algemeen goeie gesondheid handhaaf en ’n veilige seksuele leefstyl lei, behoort jy bloed te kan skenk.

Om jou naaste bloedskenkkliniek te vind, laai gerus die WKB-app op jou selfoon af of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 060 549 7244. Vir meer inligting, besoek www.wcbs.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.