Pniël bring weer hulde aan Adam Small – digter, skrywer, politikus en akademikus – met die jaarlikse literêre feesnaweek van Vrydag 24 tot Sondag 26 Februarie.
Dit is die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie dat die fees weer oor ’n naweek aangebied gaan word en dit hou groot belofte in om op te maak vir die afgelope twee jaar wat die fees nie aangebied kon word nie.
Die fees word deur die Pniël- Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) aangebied met prof. Darryl David, die bekende boekefeesorganiseerder, as programleier. David is bekend vir sy boekfeeste, onder meer die Bookbedonnerdfees in Richmond en Suid-Afrika se enigste Kinderboekfees.
Toegang tot die fees is gratis, hoewel kostes aan die aandvertonings verbonde is. Kom kuier lekker saam in Pniël en geniet die nou reeds bekende en asemrowende uitsigte in die vallei en die skadu van die majestueuse Simonsbergreeks.
“Die hele naweek word toegewy aan die groot gees Adam Small, wat gesê het ‘Ek twyfel nie aan die toekoms van Afrikaans nie; solank daar mense is wat Afrikaans praat, sal die taal bestaan.’ En dit is ons doel met hierdie fees,” sê Janine Myburgh, voorsitter van die PEKT.
Die fees sluit skrywers en aanbiedinge vir oud en jonk en literêre werke vir almal se smaak in.
Die skoleprogram begin reeds Donderdag 23 Februarie met leesprogramme by die plaaslike kleuterskool en laerskool, aangebied deur Lapa-uitgewers.
“Die amptelike opening van die fees is Vrydag 24 Februarie om 09:00 in die Pniël-museum se teetuin en word gevolg deur ’n program propvol aanbiedings en gesprekke deur plaaslike skrywersgroepe asook bekende skrywers en digters, onder wie opkomende skrywers van die Pniël-skrywersklub en die Mengelmoes-skrywers – beide onder leiding van dr. Diana Ferrus – asook bekendes soos Garieyah Fredericks, Ian Sutherland en Grant Jephtas, om maar net ’n paar te noem,” sê Myburgh.
Die ATKV se Vriende van Afrikaans (VVA) bied ook die Vrydag ’n sessie aan vir gr. 8-leerders van Kylemore Sekondêre Skool, waar die bekende en bekroonde aktrise Crystal-Donna Roberts met gr. 10-leerders sal gesels oor die pad wat sy in haar loopbaan tot dusver geloop het.
Sy is bekend vir haar rolle in Arendsvlei en die internasionaal bekroonde rolprente The Endless River en Krotoa.
Shireen Crotz (ATKV:VVA) gesels met Crystal-Donna oor haar suksesvolle debuutroman Speurder Sammi, wat onlangs vrygestel is. Dis toeganklik geskryf met ’n moderne tiener as hoofkarakter vol gewone “tienergeite” en beloof om jong lesers vasgenael te hou. Die dagsessie sluit om 16:00 af.
Vrydagaand word die jongmense vergas met ’n musiekvertoning en motiveringswerksessie aangebied deur die bekende Afrikaaps-kunstenaar Jitsvinger.
“Hy betrek graag plaaslike kunstenaars en talent by sy vertonings. Jitsvinger sal reflekteer oor sy loopbaan en jongmense motiveer met gesprekke rakende taal, groepsdruk, selfmotivering, loopbaankeuses en hoe om die regte gemoedstoestand te kweek. Hy motiveer ook dat ouers sy sessies saam met hul kinders bywoon.”
Die program gaan Saterdagoggend van 09:00 af voort wanneer groot name soos onder andere Ashwin Arendse (skrywer), Jo-Anne Joseph (bekende nuusleser en skrywer), Julian Jansen (joernalis en skrywer) en Clinton du Plessis (digter en skrywer) hul beurt sal kry. Die ATKV-VVA bied ook die Ommietafelgesprek aan met Chareldine van der Merwe as gespreksleier. Een van haar gaste is Jurgen McEwan (akteur: Arendsvlei). “Na afloop van die Ommietafelgesprek volg ’n Adam Small-gedenklesing, wat deur prof. Quentin Williams van die UWK aangebied sal word.”
Die Saterdagprogram word afgesluit met ’n opelug-vertoning om 18:30 in die Pniël-museum se teetuin deur die ATKV Crescendo-span onder leiding van Robin-Dean Fourie, met vertonings deur die bekende sanger Petronel Baard en die The Voice-finalis Keanu Harker. “Die produksie heet Klawerjas en is ’n musikale blyspel waarin die kleurvolheid van Afrikaans sowel as die legendariese Adam Small gevier gaan word. Besoek pnielmuseum.co.za vir kaartjies,” voeg Myburgh by.
- ’n Gepaste afsluiting van die fees is ’n kerkdiens Sondag 26 Februarie in die Pniël Congregational Kerk om 09:00. Ná die diens gesels Michael Jordaan met dr. Adrian Enthoven en dr. Beryl Botman praat oor haar boek .
“Ons dank aan al ons borge wat dit vir ons moontlik maak om die fees aan te bied.”
. Vir meer inligting, stuur e-pos na pnielmuseum@gmail.com of bel Janine Myburgh by 072 245 1415 of Darryl David by 062 187 8399.