Dwelms en geld was van die produkte wat die Cloetesville-polisie tydens onlangse patrollies by verdagtes afgeneem het.

Die Cloetesville-polisie het die afgelope week verskeie suksesse gehad om vuurwapens ná die onlangse skietdood van ‘n tiener uit die strate te kry.

Volgens AO Zenobia Sedeman, ‘n plaaslike polisiewoordvoerder, is verskeie optredes ná talle skietvoorvalle in die buurt van stapel gestuur.

“Die Cloetesville-polisie, tesame met die Stellenbosch-munisipaliteit se wetstoepas- sers, die polisie se bende-eenheid en die Paarlse Openbare Orde Polisie-eenheid (POP) het wonings geïdentifiseer waar vuurwapens en dwelms moontlik versteek is,” verduidelik sy. “Inligting deur die gemeenskap, wat suksesvol was, is ook opgevolg.”

Tydens die optredes is op tien sakkies met kokaïen, een .45mm-vuurwapen en ‘n .38 Special-rewolwer afgekom.

Die polisie het Sondag (27 Julie) nog welslae met die hulp van hul veiligheidsvennote behaal toe hulle in Primrose-straat patrolliewerk gedoen het.

Die beamptes het ‘n groep mans, wat in die straat gestaan het, genader. Toe die mans deursoek is, is ‘n rewolwer met drie .38-rondes by hom gekry.

Die verdagte, ‘n 16-jarige seun, is in hegtenis geneem vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Sedeman bedank die gemeenskap vir hul samewerking en moedig inwoners aan om inligting na die polisie deur te gee.

• Inligting kan anoniem verskaf word en direk aan die stasiebevelvoerder, lieutenant-kolonel Monique Fortuin, by 082 411 2911, of aan kaptein Rian Wiese by 082 778 9952 oorgedra word.

Hierdie vuurwapen en ammunisie by ‘n man gekry.
‘n Rewolwer is by ‘n 16-jarige afgeneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article