SKK laat dit lopies reën

Die eerste span van Stellenbosch-krieketklub het die tweede helfte van die 2022-’23-krieketseisoen op ’n hoë noot begin toe hy De Wet-krieketklub Saterdag (14 Januarie) met 266 lopies geklop het.

Stellenbosch-krieketklub het De Wet-krieketklub die afgelope Saterdag (14 Januarie) met 266 lopies geklop.

Credit: SYSTEM

Die eerste span van Stellenbosch-krieketklub het die tweede helfte van die 2022-’23-krieketseisoen op ’n hoë noot begin toe hy De Wet-krieketklub Saterdag (14 Januarie) met 266 lopies geklop het.

Die Stellenbossers het die loot gewen en besluit om eerste te kolf – ’n besluit wat die tuisspan gou op die voorvoet gehad het. En met goeie weerstoestande het die Stellenbossers die telbord vinnig laat rol.

Die aanvangskolwers, Peter Minnis en Timothy Cornelissen, het veral onder die Worcesteriete ingeklim en met ’n eerstebeurtvennootskap van 158 lopies van 177 die aanvangsboulers reg rondom die veld gemoker. Minnis het 116* (105) aangeteken, terwyl Cornelissen 52 (73) aangeteken het.

Curt Oliver 33 (18), Sanele Qubuda 33 (29) en Yaasin Jakoet 29 (13) het ook ’n goeie bydrae tot die Stellenbossers se eindtelling van 347/9 in hul toegelate 50-boulbeurte met die kolf gemaak.

Dit was egter nie die einde van De Wet se ellende nie en die tuisspan se boulers het die besoekers omtrent voor die paaltjies laat rondstaan.

Die aanvangsbouler Curtley Klaasen het van voor af gelei en die naatbal op al die regte areas geboul, net genoeg om die kolwers te laat proe. Hierdie goeie boulwerk het Klaasen die boulsyfers van 4-14-1-6 besorg met drie van die paaltjies wat vangkanse was. Hy is goed deur Oliver (2-4-0-2,5) en Qubuda (2-14-0-5) ondersteun.

De Wet-krieketklub is in die 30ste boulbeurt vir ’n skamele 80 lopies kleedkamers toe gestuur.

Die speler van die wedstryd, Peter Minnis, het 116* van 105 balle aangeteken.

Minnis, die speler van die wedstryd, het gesê dit was ’n aangename dag om krieket te speel.

“Ons het reeds Donderdag gesien dit gaan warm wees en, met ons vorige wedstryd teen De Wet in gedagte gehou, het ons geweet wat om te verwag. Die eerste ses boulbeurte was ’n bietjie moeilik, want daar was ekstra opspring en ons moes kophou, maar daarna het die son die blad lekker hard gebak en die bal het lekker op die kolf gekom, en ons moes net daarop kapitaliseer.”

Minnis meen die stewige telling wat deur die kolwers aangeteken is, was ’n goeie fondasie vir ’n energieke boulaanval om die totaal suksesvol te kon verdedig. “Ons boulers het presies geweet wat van hulle verwag word en het met die ekstra selfvertroue op die regte areas geboul en net genoeg beweging gekry om die paaltjies te laat kantel. Ons is bly ons kon voortbou op ons onoorwonne streek in die eerste helfte.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.