Idasvallei Primêr se wiskundeboffins het die afgelope naweek hul staal gewys en by die Wes-Kaapse Growsmart-wiskundekompetisie koning gekraai.
Idasvallei se gr.6-leerders Joden Davids, Autumn-Joy Scholtz en Lenay Adams was die gunstelinge, maar Diazville Primêr (Saldanhabaai) moes uiteindelik die knie vir die Stellenbossers buig.
Dié drie, onder leiding van juffrou Jo-Anne Baartman, het eers aan die streekskompetisie deelgeneem. Die span moes flink saam mental maths (om somme in die kop op te los) gebruik, wiskundige reëls toepas en woordsomme baasraak.
“Elkeen van hulle het hul eie sterkpunte en hulle het mekaar goed aangevul. Voorheen was dit ’n individuele kompetisie, maar met die groepwerk het hulle regtig ’n band gebou,” sê Baartman.
Vanjaar se oorwinning was ’n tweede vir Baartman.
Lenay, Autumn-Joy en Joden het ekstra wiskundesessies gehad en sê hoewel hulle ’n bietjie senuweeagtig was, was die kompetisie pret.
“Mental maths is my gunsteling, en die reëls van wiskunde. Ek besluit nog of ek ’n dokter of ’n advokaat wil word,” sê Lenay.
Vir Autumn-Joy blyk dit ’n toekoms in syfers lê voor, aangesien sy planne het om eendag ’n geoktrooieerde rekenmeester te word. In haar geval blyk dit haar kop vir syfers kom van haar pa, wat ’n wiskunde-onderwyser is. Hy het ook die span met hul voorbereiding vir die kompetisie gehelp.
In Joden se geval blyk dit sy liefde vir wiskunde sal gewis help met sy strewe om ’n dokter te word.
’n Deel van die wenspan se pryse was R20 000 se opvoedkundige toerusting, wat onder meer ’n skootrekenaar en skryfbehoeftes insluit.
Anton Gordon, Idasvallei Primêr se skoolhoof, het die span en Baartman gelukgewens met hul prestasie en sê die skool is besonders trots op hulle.