Die Hoër Meisieskool Bloemhof is onlangs as die land se beste hoërskool onder Afrikaans- en dubbelmediumskole deur die Skoleondersteuningsentrum (Sos) aangewys.
Dié aankondiging is Vrydag 25 Februarie in Pretoria gedoen by ’n prysuitdeling waar die eerbewyse aan Wilna van Heerden (Bloemhof se skoolhoof) oorhandig is.
“Ek was bevoorreg om die eerbewys namens die personeel in ontvangs te neem, want uiteindelik is dit die onderwysers se gehaltewerk wat uitslae van uitnemendheid verseker,” sê Van Heerden.
Volgens Hugo Vermeulen (hoof: opleiding Sos) publiseer die Sos sedert 2015 ’n jaarlikse verslag oor die nasionale matriekuitslae waarin dié data ontleed word met ’n spesiale fokus op die resultate van Afrikaanse skole.
Die metodiek wat gevolg is om die 20 topskole te bepaal, is soos volg: Die top-20-lyste fokus op twee gebiede, naamlik die skole met die meeste onderskeidings en skole met die meeste onderskeidings per aantal kandidate wat die vak geneem het. “By eersgenoemde het groter skole ’n beter kans om die lyste te haal. By laasgenoemde is die speelveld egter gelyk,” sê Vermeulen.
Skole met Afrikaans as onderrigmedium – enkelmediumskole soos Bloemhof, maar ook dubbelmediumskole soos Paul Roos Gimnasium – word duidelik in die verslag aangedui.
Bloemhof ontvang ’n eerbewys vir die Afrikaanse skool met die meeste onderskeidings per kandidaat in die land, en ’n toekenning wat Bloemhof se uitnemendheid in die volgende vakke insluit (in terme van Afrikaans- of dubbelmediumskole in Suid-Afrika):. Afrikaans Huistaal (tweede). Wiskunde (12de). Wiskundige Geletterdheid (sewende). Rekeningkunde (vyfde). IGO (tweede). Fisiese Wetenskappe (negende)
Bloemhof is nie net een van die top-20-skole met Afrikaans as onderrigtaal nie, maar is eerste op dié lys wat deur die aantal onderskeidings per kandidaat bepaal word. Van alle skole in Suid-Afrika, wat private skole en Engelse openbare skole insluit, is Bloemhof die vierde beste – beslis ’n noemenswaardige prestasie.
PRG het die 10de meeste onderskeidings per kandidaat van alle skole wat Afrikaans as onderrigtaal insluit en het onder meer die beste gevaar wat aantal onderskeidings per kandidaat in wiskunde en fisiese wetenskap betref.