Personeel en leerders by Hoërskool Kayamandi in Stellenbosch, sit sedert Maandag 7 Februarie met die hande in die hare in oorvol klasse met te min onderwysers.
Dit volg nadat die skole Maandag landwyd tot volle kapasiteit teruggekeer het, maar, sê ’n bekommerde ouer en onderwyser, die departement was nie gereed vir wat hier sou afspeel nie.
Die skool is volgens die onderwyser, wat verkies om sy/haar naam te weerhou, in rep en roer en leerders het skaars plek om te sit. “Die skool se kapasiteit is vir 1 200 leerders, maar hier is reeds 1 500 leerders. Klasse huisves tussen 45 en 50 leerder per klas en om dit alles te kroon, het ons drie onderwysers te min, wat beteken sommige klasse het nie onderwysers om klas aan te bied nie. Die oortollige leerders word in die skoolsaal gehou, waar onderwys-assistente oor hulle toesig hou,” voeg die onderwyser by.
“Om sosiale afstand te hou, is prakties onmoontlik, maar ons doen ons bes om Covid-19-protokol te volg. Dit is ’n groot gesondheidsrisiko. Dit is warm en die leerders word onrustig, want baie van hulle is in die laer grade.”
Die onderwyser sê die departement van onderwys is bewus van die probleem, maar het dit nie deurdink nie. “Hulle het dit nie goed deurdink nie. Hulle weet ons brei elke jaar uit, veral omdat ons voedingskole, Ikhaya Primêr en Kayamandi Primêr, ook vol is. Ons moes baie kinders vanjaar wegwys. Almal wat hier is, woon in Kayamandi.”
Die departement het die afgelope vyf jaar sewe nuwe klaskamers opgerig, twee bykomende klaskamers in 2017 en vyf opslaan-klaskamers in 2019. Die onderwyser sê die skool het meer klaskamers en onderwysers nodig om hierdie probleem daadwerklik op te los.
“Ons is bewus van die situasie by Hoërskool Kayamandi, en ’n bykomende onderwyspos is Maandag toegestaan. Die skool het verdere poste aangevra, wat nou oorweeg word,” het Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), gesê.
Hammond sê die staatskoerant om die terugkeer na voltydse bywoning aan te kondig, is eers Sondag uitgereik.
“Gister was die eerste dag waarop dit toegepas is. Die WKOD monitor en assesseer dus skole en hul uitdagings met betrekking tot tekorte aan klaskamers en onderwysers. Ons kan nie hierdie uitdagings oornag oorkom nie.
“Ons sal voortgaan om met skole in gesprek te tree oor die uitdagings wat hulle met betrekking tot kapasiteit ervaar en na oplossings in hierdie verband kyk. Ons dank veral ons onderwysers en skoolpersoneel vir hul geduld en toewyding in die hantering van groot klasse,” voeg sy by.
“Wat ons wel weet, is dat die leeruitkomste, veral in ons jonger grade, beter vir voltydse skool as rotasie is. Ons fokus op leer, terwyl ons ook die uitdagings wat ons elke jaar met die toestroming van leerders ervaar, probeer oplos,”het Hammond gesê.