André Van Staden (regs), rektor van Paul Roos Gimnasium, en Roelou Slabbert, die beheerliggaam-verteenwoordiger, by die ingang na Roosinbosch.


Paul Roos Gimnasium se splinternuwe kafeteria, Roosinbosch, en handelsmerkwinkel, Splenditior, is Maandag 7 Oktober amptelik geopen.

Dié nuwe geriewe is van die hoogste gehalte en voeg baie waarde tot die Paul Roos-kampus.


Roosinbosch
is ’n moderne kafeteria wat gebruik maak van ’n geldlose stelsel, wat ’n leerder die geleentheid bied om deur middel van ’n vingerafdruk te betaal. Dit is ’n baie veilige stelsel en staan bekend as “LunchHub”.


Roosinbosch
, met sy oop ruimtes en mooi houtbanke, word van 07:00 tot 17:00 bedryf en bied ’n informele ruimte waar leerders in die middag kan ontspan en huiswerk doen. Ouers is natuurlik welkom en word uitgenooi om ook van dié gerief gebruik te maak.


Roosinbosch
word op verskeie maniere aangewend behalwe as kafeteria. Dit sal onder meer gebruik kan word vir meesterklasse vir groot groepe en as ’n nauurse studielokaal.

Die kafeteria is aan ’n bekende spysenieringsmaatskappy in Stellenbosch uitgekontrakteer. Die eienaar is self ’n voormalige Paul Rooser en is ’n ouer van die skool.

Buiten ’n uitgebreide spyskaart wat daagliks beskikbaar sal wees, word ’n spesiale maaltyd van die dag elke dag opgedis – ’n goed gebalanseerde, gekookte bord kos, veral gemik op leerders wat ná skool bly vir buitemuurse aktiwiteite en die skoolterrein eers laatmiddag verlaat.

Die handelsmerkwinkel met sy indrukwekkende dekor doen die Paul Roos-handelsmerk gestand. Splendidior word bedryf deur die bekende uitrusters De Jagers en is die allleenverskaffer van alle Paul Roos-uniforms en handelsmerkitems.

Paul Roos Gimnasium het twee jaar gelede die visie van ’n tienjaar-meesterplan vir die kampus ontwikkel en het die afgelope paar jaar goeie vordering gemaak. Die Prima- en Prima Nova-koshuis is opgegradeer en assistent-verblyf en die rektorswoning is opgerig, leerders se ontspannings­ruimtes is opgegradeer en ’n nuwe Markötter-gimnasium is gebou.

Die volgende opwindende projek, in samewerking met die Universiteit Stellenbosch, is ’n binnenshuise krieket-oefenbaan met sewe nette.

You need to be Logged In to leave a comment.