Skool presteer nou 100% beter

Pieter Langeveld Primêr se gr. 6-leerders se resultate in die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se sistemiese uitslae het drasties verbeter.


Pieter Langeveld Primêr se gr. 6-leerders se resultate in die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se sistemiese uitslae het drasties verbeter.

Dié skool in Cloetesville se wiskunde vir gr. 6 het in vergelyking met 2019 met 100% verbeter en die tale vir dieselfde graad met 400%. Die skoolhoof, Shafiek Jacobs, sê: “Dit beteken enorm baie vir die skoolge­meen­skap omdat ons uitslae van 2019 deels daarvoor verantwoordelik was dat ons as een van die 11 swakste skole in die Kaapse Wynland geklassifiseer is.

“Dit het bloedsweet gekos om teen alle verwagtinge te presteer. Nie eens Covid-19, rotasie van leerders en die nie-beskikbaarheid van tegnologie by ouerhuise kon ons keer om nie te presteer nie,” het hy bygevoeg.

Jacobs sê tuiswerkpakkette in samewerking met die onderwysde­partement, vakadviseurs, Spelling Bees, wiskundeolimpiades, die biblioteek, rekenaarlokaal en ouerbetrokkenheid asook die skoolbeheerliggaam se betrokkenheid is bydraende faktore tot die sukses.

“Die feit dat ons ’n jong en dinamiese korps jong onderwysers by die skool het wat seker maak dat ons leerders in hul totaliteit opgevoed word, en ’n ouergemeenskap wat bankvas agter die hoof staan, is ook ’n voordeel,” voeg Jacobs by. “Ek wil almal bedank vir hul harde werk en ondersteuning en veral die leerders wat alles ingesit en hul beste gedoen het.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.