’n Helderbergse gemeenskapsorganisasie, Macassar Our Pride, het onlangs ’n skenking van drie pawiljoen-sitplek-stellasies by die Laerskool Eikestad in Stellenbosch ontvang.
Dit spruit uit ’n skrywe wat dié organisasie aan die skool gerig het toe dit bekend geword het die skool is besig om sy bestaande geriewe op te gradeer.
Laerskool Eikestad was tegemoedkomend en het Macassar Our Pride skriftelik verwittig dat hul aansoek suksesvol was.
Die organisasie het dit goedgedink om die eenhede aan die Hoërskool Macassar te skenk.
Die vervoermaatskappy Melvin’s Transport het ingewillig om bystand te verleen met die vervoer van die drie eenhede na Macassar.
Clive Jefthas, die voorsitter van Macassar Our Pride, het sy hartlike dank teenoor die Laerskool Eikestad en die vervoermaatskappy Melvin’s Transport uitgespreek.
“Ons glo die skenking van die eenhede gaan inderdaad ’n verskil maak ten opsigte van die bestaande geriewe by die Hoërskool Macassar,” het Jefthas gesê.