Die eerste deel van die interskole-debatkompetisie het op 16 Februarie by Paul Roos Gimnasium begin.
Die debatliga is deur die PRG-debat- afrigter Adia van Staden en haar span by PRG-forum in 2021 begin nadat die ATKV en Dink-of-Sink-debatskompetisies in 2020 weens die Covid-19-pandemie gestaak is. Aangesien dit nie ’n vaardigheid is wat aanlyn suksesvol kan plaasvind nie, het skole in die omgewing hierdie geleentheid om deel te neem, aangegryp.
Die kompetisie word een keer per maand tot die einde van die jaar aangebied. In die eerste kompetisie het reeds 84 sprekers van onder meer die Meisieskool Bloemhof, Hoër Jongenskool Paarl, Hoërskool D.F. Malan, Hoërskool Durbanville, Hoërskool Stellenbosch, Hoërskool Parel Vallei en Hoërskool Stellenberg mekaar die stryd aangesê.
Junior en senior spanne wat inskryf, kry die geleentheid om hul toesprake een keer per aand te lewer, en ding uiteindelik teen ’n verskeidenheid deelnemende spanne deur die jaar mee. Die fokus is op onvoorbereide en minder formele debatte en onderwysers tree as beoordelaars op. Leerders kry terugvoer na afloop van die aand en die wenspan van elke debat word daarna aangekondig, asook die beste spreker van elke debat.
“Leerders se selfvertroue en praatvaardighede ontwikkel ongelooflik deur hul deelname aan dié debatsliga,” sê Van Staden. “Die PRG- Afrikaans- interskole-debatsliga skep meer geleenthede vir debatteerders om gereeld mee te ding. Voorheen het spanne slegs een keer gepraat as hulle nie na die halfeindronde deurgedring het nie. Ons skep met behulp van ons eie liga dus ruimte vir verdere ontwikkeling.”
Van Staden sê aangesien debat ’n vaardigheid is wat in elke beroep vereis word, wil PRG sy leerders bemagtig om hul uitgangspunte duidelik en logies te stel, om beleefd met mekaar te kan verskil, en sodoende leerders die gemeenskap in te stuur wat nasiebou in Suid-Afrika bevorder.
“Leerders leer om krities te lees en hul eie menings te vorm. Ons is dankbaar vir ENSafrica se betrokkenheid as die nuwe amptelike borg van PRG Forum (die praatkunste), en hoop om by mense in die praktyk te leer deur hulle as mentors in te span.”
PRG se junior span (Johan Smuts, Ian Lubbe en Damian de Lange) het Parel Vallei op 16 Februarie in die onderwerp “Beskermende ouers is beter vir die moderne kind se ontwikkeling” gewen.
Die senior eerste span (Jordan Cridland, Christian Sander en Steffan Thielen) het D.F. Malan geklop met die onderwerp “Gegradueerdes is belangriker vir die SA samelewing as ambagslui”. D.F. Malan het PRG se senior tweede span (Dirk Guelpa, Waldo Bonthuys en Rossouw van Niekerk) geklop.
Die datums vir die debatsliga is:
13 April 17:45 tot 19:45 en 11 Mei van 17:45 – 19:45.. Rig e-posnavrae aan Adia van Staden by avstaden@paulroos.co.za.