Ná 30 jaar aan die helm van JJ Rhode Primêr in Elsenburg buite Stellenbosch, is dit tyd vir Edward Adams (58) om te groet en ’n bietjie rustiger te raak.
Adams tree aan die einde van die maand weens gesondheidsredes ná 36 jaar uit die onderwys.
Dié boorling van Franschhoek sê hy het as jongman op die Elsenburg verlief geraak. “My pa was ’n priester en het gereeld in Elsenburg kom bearbei. As jong seun het ek baie saam met hom hierheen gekom; dis toe ek op die gebied en sy mense verlief geraak het. Die mooi akkerlane as jy by die plek inkom en die mooi skoonheid van die natuur het my getref. Ek het altyd geweet ek wil in hierdie gemeenskap werk,” onthou Adams.
Hy vertel hy het sy onderwysloopbaan by ’n skool in Kaapstad begin, en later in Piketberg voortgesit. Hy het in 1986 by JJ Rhode Primêr aangesluit.
“Ek het as Afrikaans- onderwyser hier begin en ses jaar later het ek vir die pos as skoolhoof aansoek gedoen. Ek was hier toe die skool van ’n private skool na ’n staatskool oorgeskakel het. Ek was destyds deel van die onderhandelingsproses. Dit was interessante en ongelooflike tye hier,” onthou Adams.
Hy sê as skoolhoof in ’n gemeenskap soos Elsenburg moet jy baie hoede drae. “Dit is die klein dingetjies wat ek vir hierdie gemeenskap gedoen het, soos iemand se pensioenvorms help invul, raad gee vir iemand, getuigskrifte skryf vir oudleerders en net in die gemeenskap betrokke wees, wat my laat besef het die gemeenskap het my nodig.”
Adams sê hy gaan veral die kinders baie mis. “Ek gaan die kinders sonder twyfel die meeste mis, want hulle was die rede hoekom ek elke dag opgestaan het en skool toe gekom het – of dit nou ’n goeie of slegte dag is, het my passie vir hulle dit altyd die moeite werd gemaak om skool toe te kom,”voeg hy by.
Hy sê die gemeenskap sal hom altyd na aan die hart lê. “Elsenburg sal altyd vir my spesiaal wees en ek gaan steeds in die gemeenskap betrokke wees.”