’n Sesjarige meisie van Klapmuts is verlede Dinsdagoggend (16 Mei) uit die kloue van ’n vermeende ontvoerder gered nadat sy sonder toesig voor die skoolhek gestaan het.
Sers. Madilyn Dombas, woordvoerder van Klapmuts-polisie, sê die meisie se ouer het haar omstreeks 07:10, terwyl dit nog donker was, voor die hek van Klapmuts Primêr sonder toesig afgelaai.
“Terwyl die meisie daar alleen voor die skoolhek gestaan het, het ’n onbekende vrou die kind genader en vir die meisie gesê om saam met haar huis toe te stap.”
Dombas sê die kind het toe die vrou gevolg.
“Terwyl die twee weg van die skool af geloop het, het ’n onderwyser die meisie opgemerk en haar geroep. Gelukkig ken die juffrou die kind en het vir haar hard op haar naam geskree en gevra waarheen sy op pad was. Die kind het terug geantwoord en gesê sy weet nie. Die onbekende vrou het onmiddellik die kind se hand gelos en weggehardloop.”
Volgens Dombas het die onderwyser toe uit haar voertuig geklim en die kind, wat verlate in die pad gestaan het, gaan haal. Die polisie is ingelig en ’n saak van poging tot ontvoering is geopen.
Dombas sê die beskrywing wat die polisie ontvang het van die verdagte vrou is dat sy ’n wit baadjie aangehad het, ’n swart broek en het Rastalokke (dreadlocks).
Dombas deel verder die volgende veiligheidswenke met ouers en vra dat hulle altyd hul kinders in die teenwoordigheid van ’n betroubare grootmens by die skool aflaai.
1. Ouers moet sorg dat hul kinders op die skool se perseel afgelaai word, en sorg dat daar iemand is wat omsien na die kinders wanneer hulle skool toe kom.
2. Leer jou kind om nie met vreemdelinge te loop of te praat nie.
3. Leer jou kind om jou selfoonnommer te onthou ingeval iets sou gebeur.
4. Moenie laat jou kind enigiets vat wat vreemdelinge aanbied nie, en
5. Laat die kinders enige verdagte mense of voertuie wat by die skool ronddwaal onmiddellik by hul onderwyser aanmeld.