Vir die 15de agtereenvolgende jaar het die Stellenbosch-munisipaliteit ’n skoon ouditverslag van die ouditeur-generaal van Suid-Afrika vir die 2022-’23 boek- jaar ontvang.
Adv. Gesie van Deventer, die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, het die noukeurige pogings van munisipale amptenare om die uitkoms van die oudit te verseker, toegejuig.
In ’n verklaring het die munisipaliteit gesê die skoon oudit-uitkoms weerspieël dat dit ’n gesonde finansiële posisie gehandhaaf het en dat daar behoorlik rekenskap van alle gelde wat spandeer is, gegee kan word.
“Goeie regering vorm die grondslag van ’n welvarende samelewing. Wanneer deursigtigheid, openheid en vertroue in die weefsel van regering ingeweef word, baan dit die weg vir verantwoordelike leierskap,” lui die verklaring.
“Skoon oudits word meer as ’n prosedurele noodsaaklikheid; hulle simboliseer ’n verbintenis tot fiskale verantwoordelikheid. Elke sent wat verantwoord word, beteken dat hulpbronne daarheen gerig word waar dit nodig is, en bevorder doeltreffende openbare dienste.”
Die munisipaliteit het ’n kultuur van goeie regering en verantwoordelikheid ingeboesem.
“Ons is trots op die harde werk wat ons raadslede en amptenare doen om gesonde finansiële bestuurspraktyke by die munisipaliteit te verseker,” het Van Deventer gesê.
Geld op mense bestee
“Daar is ’n duidelike verbintenis dat elke sent van munisipale uitgawes op ’n deursigtige manier verantwoord moet word. Hiervoor kan ons inderdaad trots wees en ons moet voortdurend werk om selfs verder te verbeter. Ek is ongelooflik trots op hierdie prestasie.”
Goeie finansiële beplanning, fiskale dissipline, voortdurende toesig en interne beheer is sleutelelemente om gesonde finansiële bestuur te verseker.
Van Deventer het verder haar waardering en dankbaarheid vir die leierskap van die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, en finansiële hoof, Kevin Carolus, uitgespreek.
“Gesonde finansiële bestuur en skoon regering bou ’n munisipaliteit wat beter toegerus is om dienste aan alle inwoners te lewer. Ons gemeenskappe kan gerus wees dat ons as ’n munisipaliteit die publiek se geld soos dit behoort te wees – op die mense en vir die mense – bestee het,” het sy verduidelik.
“Daar sal in enige stelsel altyd ruimte vir verbetering wees, en ek nooi lede van die publiek om altyd te verseker dat ons hierdie uitstekende standaarde handhaaf. Ek waardeer die rol wat die publiek voortdurend speel om ons te help om ’n skoon, gesonde, stabiele en volhoubare munisipaliteit te bestuur,” het sy gesê.