Modelle van Cloetesville het onlangs uitstekend gevaar en omtrent toekennings by ’n skoonheidskompetisie, die National Pageant Beauty, Pageant Festival, in Springs, Johannesburg verower.
Warda Geswint en Kelly Ortell het albei talle afdelings by die kompetisie gewen. Geswint het in die ouderdomsgroep 15-17 deelgeneem en Ortell in die ouderdomsgroep 14-15.
Volgens Hajiera Arnolds, die plaaslike sameroeper van dié Pageant Festival in die Wes-Kaap, vind die kompetisie jaarliks in April plaas. “Ons neem elke jaar modelle na die kompetisie en beoog om volgende jaar 20 te neem,” sê sy.
Die 16-jarige Geswint het in haar afdeling die toekenning in etlike kategorieë ontvang, wat insluit die trompoppie-tema; Ultimate Beauty SA – eerste prinses (diamant); Global Beauty Queen – tweede prinses (diamant); National Beauty SA – tweede prinses (groen); Royal Beauty SA – eerste prinses (groen); Jewel of SA – wenner (rooi); Tomb Raider-tema (tweede plek). Sy was ook die wenner van al vyf haar afdelings en is gekroon as die Ultimate Beauty RSA, National Beauty RSA, Royal Beauty RSA, Jewel of RSA en Global Beauty Queen RSA, asook die Wes-Kaapse wenner in haar ouderdomsgroep.
Geswint neem sedert vierjarige ouderdom aan plaaslike kompetisies in en om Kaapstad deel en neem twee keer per jaar op nasionale vlak deel. Sy besit meer as 300 bande en krone en is ’n finalis in die Missy South Africa-kompetisie vir 2023 en sal in Augustus aan die eindronde in Johannesburg deelneem.
Vir Ortell (14), ’n lid van Star Modeling Academy, was dit die eerste groot kompetisie van haar loopbaan. Haar ma, Winnie, sê dit was altyd een van haar passies en sy wou al van jongs af modelwerk doen.
“Iets wat sy nog altyd in modelwerk raakgesien het, is dat dit nie altyd gaan oor hoeveel keer jy wen nie, maar wat jy doen met daardie kroon, en die boodskap wat jy aan jong meisies gee.”
Ortell was die wenner van onder meer Ultimate Beauty RSA, Royal Beauty RSA, Jewel of RSA en Global Beauty Queen RSA, asook die Wes-Kaapse wenner in haar ouderdomsgroep.