Skote het Dinsdagoggend (16 April) op die R44 in Cloetesville geklap.
Die polisie en nooddienste was omstreeks 09:00 op die toneel waar twee mans in die skietery gewond is. Albei is hospitaal toe gehaas, maar later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.
Een van die mans was in ’n kritieke toestand.
Volgens AO Zenobia Sederman, ’n woordvoerder van die Cloetesville-polisie, word omstandighede om die skietery steeds ondersoek en niemand is in hierdie stadium al in hegtenis geneem nie.
Die gemeenskap van Cloetesville kla reeds jare lank oor die bendeverwante skietery waaronder inwoners deurloop. Die plaaslike polisie het onlangs gemaan dat die buurt as ’n brandpunt beskou word.
Intussen sê inwoners hulle is “gatvol” vir die oorlogsone waarin hulle daagliks moet woon. Eikestadnuus het met ’n inwoner gesels wat sê jong volwassenes is te bang om in hul eie wendyhuis te slaap en slaap uit vrees nou liewer in hul ouers se voorkamer.
Talle inwoners sê ook hulle is moeg vir wat hulle noem “politieke foefies” en “leë beloftes van politici” om hulle by te staan.
Die gemeenskapsaktivis Felicity Roland sê mense is gedaan.“Ons kinders leef in vrees; ons as gemeenskap leef in vrees. Ek is in gesprek met gemeenskapsleiers, ongeag of hulle Christene of Moslems is – almal moet saamstaan.
“Ons sal met die burgemeester of die onderburgemeester gesels, dit maak nie saak nie, maar ons is moeg dat daar net mooi sweet boggerol omtrent die situasie gedoen word,” sê sy.
- Skakel die Cloetesville-polisie by 021 888 5940; of die stasiebevelvoerder by 082 379 4997 om voorvalle aan te meld.